Ná bykans twee jaar se stilte is die gewilde asterskou terug en die organiseerders hoop dit sal die beste skou nog wees.
Peter Gordon, voorsitter van die Stellenbosch-tuinbou-en-nywerheidsvereniging (SHIS), sê hulle is dankbaar dat hulle ten minste vanjaar weer dié kompetisie kan aanbied.
Gordon sê vanjaar se skou is vroeër as gewoonlik.
“Die skou is vanjaar op 30 April, ’n week vroeër as gewoonlik. Dit is ons eerste skou in twee jaar en ons sien baie daarna uit. Ons lede kom van so ver as Worcester, Ceres, Piketberg, Kuilsrivier, Belhar en Wellington,” sê Gordon.
Gregory Davids, ’n komiteelid van SHIS, sê hulle het baie nuwe lede wat opgewonde is oor hul eerste kompetisie.
“Baie van die nuwe lede het by ons aangesluit net voordat die Covid-19-pandemie ons getref het, en hulle is net so opgewonde soos ons,” sê hy.
Davids sê hulle hoop vir goeie weer vir die volgende twee weke om goeie gehalte blomme te kweek.
“Ons hoop om lekker koue weer oor die volgende paar dae voor die skou te hê. Dit sal help om die blomme mooi oop te kry,” voeg hy by en sê die uiteenlopende weersomstandighede in die verskillende dorpe waar die lede woon, gaan ’n groot rol in die soort blomme wat vanjaar gekweek gaan word, speel,
Dit is vanjaar die SHIS se 60ste bestaansjaar en Gordon sê hulle beoog om die stigterslede later vanjaar te vereer.
“Ons kan nog nie veel doen nie, weens sekere Covid-19-regulasies wat nog geld, maar ons gaan die stigterslede gewis vereer.”
Verrigtinge by vanjaar se asterskou begin om 09:00 by die Volkskerk by Kahlerstraat 60. Die beoordeling word deurgaans gedoen en die prysuitdeling vind om 13:00 plaas. Blomme sal van 16:00 te koop wees. Toegang is gratis, maar skenkings is welkom.