Die tyd vir voornemende kunstenaars om oorweeg te word vir ATKV-Crescendo se mentorskapprogram in 2025 raak min. Belangstellendes het tot Dinsdag 31 Desember om vir hierdie projek in te skryf.
Oor die afgelope vyf dekades het Crescendo gehelp om die musikale loopbane van kunstenaars soos Rina Hugo, Riana Nel, Jak de Priester, Anna Davel, Anneli van Rooyen en Karin Hougaard te laat vlam vat. Die formaat het egter oor die jare verander.
“In plaas van ’n talentkompetisie waar net een persoon as ’n wenner aangewys word, fokus ATKV-Crescendo deesdae op die ontwikkeling van musikante, want talente is nie gegee om teen mekaar te kompeteer nie, maar eerder om mekaar daardeur te verryk,” verduidelik projekorganiseerder Morné van Staden.
“Deur die jaar woon ’n aantal finaliste slypskole by om hulle voor te berei op ’n loopbaan in die kunste. Daar word ook klem gelê op nuutskeppings, aangesien kunstenaars liedjies moet inskryf wat uit hulle eie pen kom.”
Die talent wat uit hierdie mentorskapprogram gekom het, het die ATKV genoop om ATKV-Crescendoproduksies te begin, wat nuwe produksies op die planke bring en finaliste help om hulle liedjies, albums en musiekvideo’s vry te stel. Hierdie produkte kan op aanlyn platforms soos YouTube gesien word en liedjies word op radiostasies en stroomplatforms soos Apple Music, YouTube Music, Spotify, Amazon Music en Deezer vrygestel.
“Op hierdie manier voorsien ATKV-Crescendo ’n konstante vloei van nuwe stemme, kunstenaars en liedjies vir die Afrikaanse musiekindustrie,” verduidelik Van Staden.
Alhoewel die finaliste dit eens is dat die mentorskapprogram hulle musikale loopbane ’n hupstoot gegee het, is die persoonlike groei wat die kunstenaars hierdie jaar ervaar het nie te versmaai nie.
Lize-Marié Naudé verklap dat sy gedink het die ervaring gaan cool wees, maar “nie só cool nie”. “Selfs toe ek die e-pos kry dat ek deurgedring het na die slypskool was dit reeds lewensveranderend. Die mense is egter next level,” vertel sy.
“By hulle kon ek net myself wees. Dit was nie nodig om voor te gee nie. Dit was nie nodig om grimering aan te sit nie. Ek is aanvaar net soos ek is en dit is wat die mooi van musiek en musikante is – ons bring die beste in mekaar uit. Die ATKV-Crescendo-familie is nou die een familie wat ek nie gaan los nie.”
Meer selfvertroue is wat vir Lester Paulus (ook bekend as Crimson Hozai) uitstaan as hy die persoonlike groei wat hy hierdie jaar ervaar het, moet beskryf. “Ek het meer vertroue in myself, die tipe musiek wat ek skryf en die tipe kunstenaar wat ek is. Ek kan ook nou oor enige onderwerp skryf en rap. Na dese verstaan ek dat my opinie van ander s’n verskil en ek is oukei daarmee.”
Potensiële finaliste kan hul inskrywings digitaal instuur, maar daar is ook talentsoekers in verskillende dele van Suid-Afrika en Namibië wat oudisies in persoon hou indien deelnemers dit verkies.
- Besoek www.crescendo.org.za indien jy ’n digitale inskrywing wil doen. Hier sal jy ook kontakbesonderhede kry van talentsoekers in SA en Namibië indien jy eerder ’n oudisie in persoon wil doen. Die sluitingsdatum vir alle inskrywings is Dinsdag 31 Desember.
- Uit hierdie inskrywings word 25 finaliste genooi na ’n omvattende mentorskapprogram tydens die Maart/April-skoolvakansie.
- Die doel van hierdie weeklange mentorskapprogram is om die finaliste toe te rus met genoegsame kennis en kundigheid om hul loopbane af te skop hetsy hulle deurdring na die volgende ronde of nie.
- Na afloop van die mentorskapprogram word daar 10 finaliste uit die 25 gekies. Hierdie 10 finaliste tree op in ’n reeks produksies gedurende die jaar.
- Tydens ’n finale slypskool kry finaliste loopbaankartering en een-tot-een-onderrig, want hierdie groep is die mense wat met die ondersteuning van Crescendo hul musiekloopbane afskop.