Die voormalige Crescendo-wenner Jak de Priester is een van vele kunstenaars wat by die ATKV-Crescendo se 50ste bestaansjaar-vieringe sal optree.


ATKV-Crescendo, een van Suid-Afrika se grootste projekte wat ten doel het om musikale talent te ontgin en te ontwikkel, het Stellenbosch gekies as die dorp om s vyftigste bestaansjaar met talle opwindende produksies te vier.

“ATKV-Crescendo en Stellenbosch het baie in gemeen,” sê Morné van Staden, die ATKV se projekbestuurder vir kunsteprojekte. “Soos Stellenbosch, is ATKV-Crescendo dié plek waar legendes gebore word. Stellenbosch het styl en tradisie – nét soos ATKV-Crescendo. Ons basis is die afgelope paar jaar hier in die Eikestad. Dit is ook die dorp waar ons kies om die talent, wat uit ons mentorskapprograp ontwikkel word, aan die wêreld te wys. Dit is net gepas dat hierdie mylpaaljaar ook hier gevier word. ”

ATKV-Crescendo, wat oor ’n halwe eeu talle transformasies van ’n musiekkompetisie tot ’n mentorskapprogram met ’n produksiehuis ondergaan het, het wel die afgelope drie jaar die Crescendo-produksies by die Daisy Jones-teater net buite Stellenbosch gehou.

“Vanjaar is egter anders,” sê Gerrie Lemmer, die uitvoerende hoof van kultuur van die ATKV. “Gehore kan uitsien na besondere produksies waar legendariese Crescendo-kunstenaars soos Karin Hougaardt, Anneli van Rooyen en Jak de Priester die verhoog met meer onlangse finaliste soos Gracia Nicholls, Marsha Bothma, Selby Williams en Lucia Poggenpoel deel. Verder is die produksies uniek in die sin dat dit ’n interaktiewe ervaring is. Die ankeraanbieders en kunstenaars slaag daarin om deelname uit die gehoor te ontlok deur almal op ’n musikale reis van diverse musiek, filosofiese gesprekke en skerp humor te neem.”

Sonel Brits, die besturende direkteur van die ATKV, sê sy het die geleentheid gehad om die vorige produksie, Platformsessies: Di-vers, by te woon. “En was dit nou ’n ervaring. Wat ek van die produksie onthou, is hoe die gehoor en ander kunstenaars mekaar aanmoedig en ondersteun. Dit is amper soos ’n gemeenskap; ’n samekoms van verskillende genres, stemme, kunstenaars . . .”

Stellenbosch-gehore kan vandeesmand uitsien na Platformsessies: Nostalgie op 16 Augustus by die Daisy Jones-teater. In hierdie produksie kan die gehoor uitsien na ’n nostalgiese reis met stories en liedjies wat oor die jare deur televisie en radio tot in ons sitkamers gebring is. Die voormalige Crescendo-wenners Jak de Priester en Babette Viljoen deel die verhoog met drie 2024-finaliste, naamlik Duran Titus (ook bekend as Duka), Lester Paulus (ook bekend as Crimson Hozay) en Lize-Marié Naudé.

Al is Jak de Priester 22 jaar gelede in 2002 as die ATKV-Crescendo-wenner aangewys, onthou hy daardie aand soos gister. “Ek kon met Crescendo se finansiële steun my eerste album, Sally Williams Nougat, opneem – iets wat ek nooit op my eie sou kon doen nie. Ek sien daarna uit om op 16 Augustus die verhoog met aspirerende kunstenaars te deel, wat waarskynlik dieselfde opgewonde gevoel gaan hê as wat ek twee dekades terug ervaar het.”

Die 2009-wenner, Babette Viljoen, gaan saam met die pianis en komponis Olga Leonard tydens Platformsessies: Nostalgie te sien wees. “Dit is vir ons ’n ongelooflike voorreg om deel van ATKV-Crescendo se mylpaaljaar te wees. Die rede waarom Crescendo myns insiens ná vyf dekades steeds belangrik is, is omdat hierdie projek daarin slaag om die musikale diversiteit van Afrikaans te vier. Afrikaans het soveel verskillende variëteite, stemme en genres, maar tog praat ons steeds dieselfde taal.”

Conrad Jamneck, die bestuurder van die Daisy Jones-teater, moedig mense aan om vroeg al kaartjies vir hierdie produksie te koop. “Dit is vir my persoonlik wonderlik om te sien hoe die kunstenaars deur hierdie proses groei – van daardie eerste repetisie tot die uiteindelike afsluitingskonsert aan die einde van die jaar. Gaan trek jou kiekies en herinneringe nader en kom wees saam met ons nostalgies!”. Kaartjies kos R250. Besoek www.crescendo.org.za om jou kaartjie aanlyn te koop.

You need to be Logged In to leave a comment.