ATKV-Crescendo vier vyf dekades met GOUD

Die ATKV-Crescendo “word goud” om ’n halfeeu se bydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf te vier.


Die ATKV-Crescendo “word goud” om ’n halfeeu se bydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf te vier.

Die groot dag vind Saterdag 30 November plaas, wanneer die ATKV-Crescendo 50 jaar van talentontginning en -ontdekking by die Daisy Jones-teater buite Stellenbosch vier.

Crescendo-bekendes soos Karin Hougaard, Petronel Baard en Rouel Beukes sal saam met meer onlangse bekendes soos Selby Williams, Lucia Poggenpoel en Alzanley Lizemore musikale huldeblyke bring aan kunstenaars soos Anneli van Rooyen, Jak de Priester en Rina Hugo wie se musikale loopbane met die hulp van Crescendo vlerke gekry het.

“Die ATKV-Crescendo is een van die organisasie se grootste en bekendste projekte,” meen Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof vir taal en kultuur. “Dié projek het oor die 50 jaar van die ATKV-Crescendo se bestaan talle musiekbekendes opgelewer wat diep spore in die Afrikaanse musieklandskap getrap het.”

Die lys wenners tussen 1974 en 2005 maak dit duidelik dat die ATKV-Crescendo se wenners huishoudelike name geword het. Rouel Beukes (1974), Randall Wicomb (1975-1977), Rina Hugo (1978), Anneli van Rooyen (1979), en Karin Hougaard (1980) is net van die wenners.

Beukes, wat saam met Euodia de Kock in 1974 die eerste ATKV-Crescendo gewen het, vertel: “Ek was 19 en ’n onderwysstudent, maar die ATKV-Crescendo het my self eers laat besef dat ek ’n loopbaan in die kunste kan hê. Hoewel ek my nie op ligte musiek toegespits het nie, het ek die geleentheid gehad om in meer as 130 operas, operettes en musiekblyspele oral in die wêreld op te tree.”

Voornemende kunstenaars kon sedert die beginjare in verskil­lende afdelings deelneem.

Tussen 1991 en 2000 het Christa Steyn die ATKV se Ligteliedjiewerkskool aange­bied. Lize Beekman en Anna Davel is maar ’n paar van die kunstenaars wat onder haar leiding hul eie stem in die Afrikaanse musiekwêreld oopgeskryf het.

Hoewel hy nie ’n wenner was nie, het Deon Meiring, die voorsanger van die groep Glaskas, steeds baat gevind by die ondervinding met die ATKV-Crescendo. Hy het deurgedring na die eindronde en sy liedjie “Vrede” het ’n derde plek verower.

“Ek was nog nooit goed met kompetisies nie, maar die mense wat ek deur die projek ontmoet het, het my aangespoor om voort te gaan met musiek,” vertel Meiring.

Sonel Brits, besturende direkteur van die ATKV, vertel sy kan nie wag vir ATKV Crescendo GOUD nie.

“Ek weet dit gaan ’n produksie van uitstaande gehalte wees. Stof dus daardie aand­pakke af, vryf daardie diamante blink en kom vier 50 jaar se musikale glorie,” sê sy.

  • Kaartjies vir ATKV-Crescendo: GOUD kan deur www.crescendo.org.za gekoop word. Standaardkaartjies kos R250 en vir R500 kan jy ’n eksklusiewe BBP-ervaring kry, waar jy onder meer voor en ná die vertoning versnaperings en ’n glasie van die ATKV-Crescendo se eksklusiewe wynreeks saam met die kunstenaars kan geniet. BBP-kaartjie­houers kan ook uitsien na ’n wyn-en- whiskey-proegeleentheid.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.