ATKV-finaliste hou konsert

ATKV-Crescendo-finaliste staan gereed om te wys wat hulle in vanjaar se mentorskapprogram touwys geraak het. Voordat die finale konsert, Sit Dit Aan, op 7 Oktober plaasvind, gaan die finaliste vir oulaas nog een week se opleiding in Huis Du Preez in


ATKV-Crescendo-finaliste staan gereed om te wys wat hulle in vanjaar se mentorskapprogram touwys geraak het. Voordat die finale konsert, Sit Dit Aan, op 7 Oktober plaasvind, gaan die finaliste vir oulaas nog een week se opleiding in Huis Du Preez in Stellenbosch ondergaan.

Volgens die organiseerders sal die nege finaliste hierna slaggereed wees om die Suid-Afrikaanse musiekbedryf met die nodige kennis en selfvertroue aan te durf.

Hierdie laaste kursus bestaan onder meer uit ’n Artema-werksessie oor entrepreneurskap in die kunste oor twee dae, aangebied deur Chris de Bruyn van die Noord-Wes Universiteit, sowel as lesse oor produksiebestuur, bemarking en identiteitsontwikkeling deur CogNative Design Solution.

Clayton Morar van Clayton Morar Media gaan publisiteitsbestuurswenke aan die finaliste gee terwyl Marina Prinsloo van Thelmage die fynere kunsies van produksiebestuur en stilering aan die finaliste sal bekendmaak.

Whaden Johannes, ’n 2016-finalis en mentor van ATKV-Crescendo, verduidelik dat werkssessies soos hierdie mentors en finaliste net nader aan mekaar bring. “Ons het soveel talentvolle mense wat aan hierdie projek werk, dat dit vir my ’n voorreg is om vanjaar as ’n mentor betrokke te wees. Dit gee my die kans om die kennis en ervaring wat ek nodig gehad het toe ek die bedryf die eerste keer betree het, aan ander te gee,” verduidelik hy.

Die konsert Sit Dit Aan is ’n opvolg van die 2022-produksie waartydens kunstenaars hulself twintig jaar in die toekoms moes plaas en tydens ’n kamma-televisieproduksie ’n reüniekonsert moes hou, kompleet met kameras, regisseurs, grimeerkunstenaars en die gehoor wat as televisiegehoor dien.

Gaskunstenaars by vanjaar se konsert sluit in Petronel Baard, Sarah Theron, Whaden Johannes en Gracia Nicholls.

“Vanjaar se produksie beloof om niks anders as absoluut uniek te wees nie. Met die kombinasie van gesogte skrywers met ’n lasergefokusde oortuiging dat die gemeenskap ten goede deur musiek verander kan word, kan die gehoor uitsien na ’n grensverskuiwende konsert vir ’n nuwe soort kunstenaar, ’n nuwe soort gemeenskap van kreatiewe denkers en natuurlik ’n nuwe soort klank,” sê die kreatiewe regisseur Robin “Die Hooflig” Fourie.. Vanjaar se konsert vind plaas op 7 Oktober 2023 by The Daisy Jones-teater net buite Stellenbosch. Kaartjies kos R150.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.