’n Kylemore-inwoner is die afgelope naweek deur die Afrikaanse Taalraad vir haar bydrae tot Afrikaans met ’n Kokertoekenning vereer.
Chareldine van der Merwe het die Koker vir bemagtiging deur Afrikaans gewen. “Dit is vir my ’n baie groot eer en voorreg. ’n Mens werk mos nie om toekennings te ontvang nie, so die toekenning is regtig vir my ’n groot kompliment. Ek is baie dankbaar vir geleenthede wat ek deur die Vriende van Afrikaans (VVA) en ATKV kry om te doen wat ons doen,” het Van der Merwe gesê.
“Ek het hierdie toekenning glad nie verwag nie en nooit gedroom dat ek dit sal ontvang nie. Ek is regtig so dankbaar en trots om te kan doen wat ek doen. Ek sien elke keer hoe ons mense se lewens kan verander en wat dit vir opvoeders, leerders en ouers beteken. Elke ouer wil graag sy kind sien presteer en dit is moontlik met die aanbod wat die ATKV bied.”
Van der Merwe is die projekbestuurder van die VVA. Haar werk behels onder meer leesontwikkelingsprojekte, voorlesings aan kinders, en die uitdeel van boektrommels.
Sy is ook betrokke by ’n boekklub waar sy volwassenes aanmoedig om as aktiewe lesers voorbeelde vir hulle kinders te stel en stories aan hul kinders voor te lees en sy tree ook op as beoordelaar van taal- en leesontwikkelingsprojekte vir onder andere die Woorde open Wêrelde (WOW), verskeie leeskompetisies en die ATKV se Woordveertjies.
Sy is ’n gekwalifiseerde onderwyser in besigheidstudies en rekeningkunde, en sê haar passie lê by jonger kinders.
“Dit is vir ons ook belangrik dat kinders in hul moedertaal onderrig word, in ons geval Afrikaans. Daar is baie hulpbronne en boeke in ander tale beskikbaar, selfs finansiële hulp ook, maar Afrikaanse kinders word baie keer afgeskeep,” het Van der Merwe gesê.
“Ons wil hê dat mense trots moet wees op hul taal, want jy leer die beste in jou eie taal en kan net voortbou om ander tale aan te leer indien jy ’n goeie fondasie in jou moedertaal kry.”
Die VVA se fokus is hoofsaaklik op leesprojekte, waar die organisasie lekkerleesboeke aan kleuter- en laerskole verskaf om te verseker dat kinders so vroeg as moontlik aan boeke en lees blootgestel word, het Van der Merwe verder verduidelik.
“Kinders kan nie optimaal leer as hulle nie kan lees nie. Daarom is ons werk wonderlik om te doen. Ons lei ook mense op om kinders te leer lees en hulle met lees- en leeruitdagings te help,” het sy gesê.
“Ek wil graag die Pniël Erfenis- en Kultuur Trust bedank vir die benoeming en ook omdat hulle die waarde wat ons toevoeg sien. Ek bedank ook die direksie van die ATKV, my bestuurder, Gerrie Lemmer en ons besturende direkteur, Sonél Brits, asook my kollegas en oud-kollega Amanda de Stadler by wie ek oneindig baie geleer het.”