Atleet kruip toe haar bene ingee

Elandri Schmidt, ’n gr. 12-leerder aan die HMS Bloemhof, het met haar 3 000 m-item by die Atletiek Suid-Afrika (ASA) Junior Atletiekkampioenskap op 25 Maart in Pietermaritzburg gewys waarvan ’n ware Bloemhoffer gemaak is toe sy letterlik oor die wens


Elandri Schmidt, ’n gr. 12-leerder aan die HMS Bloemhof, het met haar 3 000 m-item by die Atletiek Suid-Afrika (ASA) Junior Atletiekkampioenskap op 25 Maart in Pietermaritzburg gewys waarvan ’n ware Bloemhoffer gemaak is toe sy letterlik oor die wenstreep gekruip het om die wedloop te voltooi.

Schmidt, wie se spesialiteit die 1 500 m is, het haar kans gewaag in die 3 000 m vir vroue o.20. Haar bene het ingegee net voor die wenstreep, maar sy het voortgebeur en oor die wenstreep gekruip.

James Moloi, hoof van ASA, het gesê Schmidt se prestasie toon veerkragtigheid. “Sy het in die moeilike toestande aan hitte-uitputting gely. Sy het in die laaste rondte oor die bane begin swenk en in die pylvak inmekaargesak. Sy het daarin geslaag om oor die lyn te kruip en haar skouers oor te kry om ’n tyd te registreer, wat haar die tweede plek besorg het.”

Schmidt sê sy voel goed oor haar prestasie. “Hoewel ek baie graag ’n beter tyd wou hardloop, is ek baie dankbaar dat ek die resies kon voltooi. Ek het geweet dis ’n item waarin ek ook kan goed vaar en waarvan ek baie hou.”

Oor wat haar gemotiveer het om die wedloop te voltooi ondanks die uitdagings, sê sy sy het net daaraan gedink om oor die wenstreep te kom en klaar te maak. “ ’n Mens het so baie werk en tyd ingesit dat jy nie net kan opgee nie, maar moet aanhou veg.”

Haar volledige uitslae was as volg:

o.20 1 500 m Vroue: Bronsmedalje

o.20 3 000 m Vroue: Silwermedalje

Sy het ook op 14 April aan die Cape Milers/Endurocad Wêreldatletiek Kontinentale Atletiektoer in Groenpunt deelgeneem. Hier het sy aan die 3 000 m in die Elite Senior-afdeling deelgeneem en ’n agste plek behaal, asook ’n seisoen- beste tyd van 00:10:02.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.