’n Wêreldkampioen wat nie veel erkenning vir sy prestasies ontvang het nie, se lewensverhaal is nou in ’n boek, Goud vir Lenny, opgeneem.
Leonard André Bailey (35), oftewel Lenny, soos hy bekend is, neem reeds langer as ’n dekade internasionaal aan velditems deel. Bailey het Downsindroom en het oor die jare vele goue medaljes ingeryg en rekords verbeter.
“Lenny het van sy skooldae by Dorothea Spesiale Skool aan sport deelgeneem. Hy kry seker maar sy sport-talent van my en sy pa, want ons was ook sportmense. Ek het netbal gespeel, en ons al twee het ook atletiek beoefen,” verduidelik Angeline Bailey oor haar jongste seun se vernuf.
Angeline en haar man, David, is albei van Stellenbosch, hoewel die gesin deesdae in Eersterivier woon. Hul verbintenis met die dorp is egter nie verbreek nie en Lenny het ook hier skoolgegaan. “Hy het van kleins af sport beoefen, maar vinnig agtergekom hardloop is nie vir hom nie. Lenny het toe met velditems begin. Eers was dit Boland-kleure, toe Wes-Kaap en soos hulle sê, ‘die res is geskiedenis’,” sê Angeline. Sy sê skertsend daar is nie meer plek op die mure of in die voorkamer vir al Lenny se medaljes, trofeë en sertifikate nie.
Lenny het goue medaljes in Mexiko in 2010 ingeryg, asook in Italië in 2016, en was selfs kaptein van die spesiale Suid-Afrikaanse sokkerspan wat in Portugal deelgeneem het. In sy loopbaan het hy vyf wêreldkampioenskap-titels in gewigstoot, spiesgooi en diskus verower. Ten spyte van die vele suksesse is daar nie veel finansiële ondersteuning of borgskappe vir atlete met gestremdheid nie.
Lenny oefen Dinsdae en Donderdae by die Bellville-atletiekstadion saam met sy afrigter, Zain Lamara.
Angeline is dankbaar Lamara bied sy dienste gratis aan, maar die koste vir Lenny se sport raak al hoe meer.
Die grootste geldelike prys wat al hy gewen het, was R5 000.
Die Bailey’s hou dus gereeld geldinsamelings. “Ons het fantastiese ondersteuners wat altyd help waar hulle kan. Familie, vriende, die kerk – almal spring in om te help wanneer nodig, maar die afgelope twee internasionale byeenkomste waarvoor Lenny gekwalifiseer het, moes hy tuis bly, want ons kon dit eenvoudig nie bekostig nie.”
Die mees onlangse byeenkoms was in Turkye en het R72 000 gekos.
Die gesukkel om borge te kry en die gebrek aan blootstelling van Lenny se wonderlike prestasies het ’n kennis van die familie gedryf om Lenny se verhaal vas te vang. Goud Vir Lenny is met dié vriend se hulp deur David en Angeline saamgestel. “Lenny het só baie wonderlike ervarings en geleenthede oor die jare gehad. Ons het ’n plakboek vol foto’s en uitknipsels, en wil ook ander inspireer met wat hy alles al vermag het.” Op sy beurt sê Lenny hy is baie opgewonde om sy verhaal te deel en is dankbaar vir almal wat hom steun.
- Vir meer oor Goud vir Lenny en om ’n eksemplaar te bestel, bel Angeline by 084 059 0280.