Ses van Laerskool Eikestad se atlete gaan aan die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap deelneem.
Die Boland-atletiekbyeenkoms is 16 Februarie by Dal Josafat-stadion in die Paarl aangebied.
Atlete van Laerskool Eikestad het hierdie byeenkoms geweldig geniet en uitsonderlike prestasies, onder meer ’n paar eerste plekke, is behaal.
Die atlete het nege keer die podium gehaal om hul medaljes te ontvang.
Die dag was ’n groot sukses met altesaam agt Eikestad-leerders wat Boland-kleure na die byeenkoms ontvang het.
Die Wes-Kaapse streeksbyeenkoms het 2 Maart plaasgevind. By dié byeenkoms het die sterkste atlete van elke streek meegeding met die doel om vir die Wes-Kaapse span gekies te word, wat aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap gaan deelneem.
Agt atlete van die Laerskool Eikestad het deelgeneem, van wie ses in die Wes-Kaap-span opgeneem is.
Die Suid-Afrikaanse kampioenskap vind 15 en 16 Maart in Germiston plaas. Dáár ding atlete van al die provinsies teen mekaar mee om ’n plek in die Suid-Afrikaanse span te behaal.