Die Afrikaanse Taalmonument en -museum (ATM) nooi weer die publiek om geskikte kandidate te benoem vir die vyfde Neville Alexander-prestige-eerbewyse ter waarde van R20 000 elk.
Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is dié eerbewyse ’n poging om erkenning aan die onbesonge helde van Afrikaans en veeltaligheid te gee én om taalprojekte te bevorder. Alexander (1936-2012) was ’n bekroonde taalkundige, aktivis, opvoedkundige en akademikus wat hom sterk vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika beywer het.
“Die eerbewyse sal toegeken word aan mense of organisasies wat hul tyd en lewe daaraan wy of gewy het om Afrikaans vir almal toeganklik te maak en die taal as ’n medium gebruik om maatskaplike samehorigheid en nasiebou te bevorder,” sê Jonas.
In 2020 is Gaireyah Fredericks en die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) met die pryse bekroon.
Onder die inisiatiewe van Fredericks, ’n aktrise en skrywer, tel die Moedertong-werksessies vir skeppende skryfwerk, haar formele mentorskap-program, haar bevordering van die taal onder Moslem-sprekers van Afrikaans, asook haar pogings om jong skrywers aan literêre feeste bloot te stel. Sy het haar prysgeld gebruik om studente wat tydens Covid-19 aanlyn by haar gestudeer het, af te rond.
Die SBA se missie is om geletterdheid deur Afrikaans te ontwikkel en respek vir Afrikaans te bewerkstellig. Met ’n fokus op onder meer veeltaligheid het hierdie organisasie die afgelope jare ’n praktiese werksoek-sakgids in Afrikaans, Xhosa en Engels gepubliseer, bykomende Afrikaanse leermateriaal aan skoolleerders versprei en veeltalige kinderboeke uitgegee. Hulle het die prysgeld vir ’n skryfprojek aangewend. Michael le Cordeur, wat in 2020 vir sy lewensbydrae tot Afrikaans vereer is, het sy prysgeld aan die Distrik Ses-museum geskenk.
Die 2022-wenners sal in Oktober vanjaar by die ATM se Neville Alexander-gedenklesing deur die voorsitter van die raad aangekondig word. Die twee wenners ontvang ’n sertifikaat en prysgeld van R20 000, geborg deur Naspers, wat ten behoewe van relevante taalprojekte aangewend kan word.
Ander vorige wenners sluit Suzie Matlhola, die fakulteit onderwys van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (Wellington), Sabina Dumas, Susan Smith, Elizabeth Dennise van Schalkwyk, Ernest Loth en Woorde Open Wêrelde in.
’n Elektroniese benoemingsvorm is by die ATM beskikbaar en die benoemings, vir individue of organisasies, moet die ATM teen Woensdag 7 September bereik by Posbus 498, Paarl 7646, of per e-pos by admin@taalmuseum.co.za. Vir meer inligting, besoek taalmonument.co.za, skakel 021 863 0543/872 3441 of stuur e-pos na kommunikasie@taalmuseum.co.za.
Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms.
Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Die Taalmonument, Taalmuseum en koffiewinkel is oop vir besoekers. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin.