Babas van die Stellenbosch-omgewing word die afgelope vier jaar in breiwerk van ’n weldoener van die Malmesbury-omgewing warm toegewikkel.
Die provinsiale departement van gesondheid en welstand het sy dank aan Stefanie Slabber, wat pas weer truitjies geskenk het, uitgespreek. Met die ontvangs van die snoesige skenking het personeel by die Stellenbosch-hospitaal rondom babas gekoer, terwyl hulle gekyk het watter truitjie die mooiste by elkeen pas.
Vanjaar het Slabber 50 truitjies geskenk wat haar suster, sr. Ronelle du Toit van die Don en Pat Bilton-kliniek, aan pasiënte van die kliniek asook aan mammas by die Stellenbosch-hospitaal gegee het.
Wanneer dit by babas en jonger kinders kom, is daar altyd ekstra opgewondenheid en ywer, want hierdie is ’n unieke tyd, verduidelik sr. Denise Adams van die Don en Pat Bilton-kliniek.
“Die eerste 1 000 dae van ’n kind se lewe vorm sy of haar toekoms,” sê sy.
“ ’n Kind wat warm, gevoed en veilig voel, het ’n groter kans op ’n gesonde en voorspoedige toekoms. Die truitjies gee ons as gesondheidswerkers nog ’n geleentheid om ’n positiewe bydrae tot die kind se welstand te maak.”
Sr. René de Silva van die Stellenbosch-hospitaal sê hulle is bly dat mense mekaar deur bydraes soos hierdie ondersteun.
Die skenking van truitjies wat via die kliniek gekom het, is ’n goeie voorbeeld van hoe die departement se personeel saamwerk om ’n verskil in die groter Stellenbosch-omgewing te maak.
Die departement herinner ouers daaraan om die beste van die eerste 1 000 dae te maak deur dienste soos gratis inenting by klinieke en uitreik-geleenthede. Inenting en aanvullings help kinders om te groei en hou hulle veilig teen ernstige siektes.
Onthou ook om jou baba te stimuleer deur met hom of haar te praat, te sing, boekies te lees en hulp te vra as jy bekommerd is oor jou kind se gesondheid of ontwikkeling.