Babylonstoren-landgoed in Simondium sien vanjaar weer na die rosé om wat tydens die wêreld se grootste blommeskou geskink gaan word.

Dié plaas tussen Paarl en Franschhoek maak nie net wyn nie, maar is ook bekend om sy asemrowende tuine. Dus gaan hierdie twee skatte van die plaas hand aan hand om harte te verower by vanjaar se Chelsea-blommeskou in Londen.

Sy Mourvèdre Rosé 2022 met subtiele geure van roosblare en ryp bessies is pas aangewys as die amptelike rosé wat geskink gaan word. “Dit herinner aan die plaas se manjifieke, sonnige tuine in Suid-Afrika se Franschhoek-wynvallei en maak ons rosé die perfekte pasmaat vir die skou,” sê Charl Coetzee, Babylonstoren se keldermeester.

Die wyn is reeds in Londen – gereed vir die geleentheid. Dit is plaaslik ná ’n laat oes en koel somer gebottel.

Dit is die tweede jaar dat dié plaas se wyn op die Royal Horticultural Society (RHS) se Chelsea-blommeskou geskink word.

Die skou word vanjaar weer in sy tradisionele tydgleuf – 24 tot 28 Mei – gehou nadat dit verlede jaar weens Covid-19 eers in September aangebied is.

The Newt, Babylonstoren se susterplaas in Somerset op die Engelse platteland, is die hoofborg van die blommeskou. Dié Engelse landgoed bied vanjaar vir die amptelike sider by die skou aan.

Sowel Babylonstoren as The Newt behoort aan die Bekker-familie, Koos Bekker, voorsitter van Naspers en Prosus se direksie, en sy vrou, Karen Roos. Die tuine van albei is oop vir die publiek.

The Newt is ook die skepper van The Story of Gardening, ’n interaktiewe tuinstalletjie by die blommeskou.

Babylonstoren is die enigste vennoot van die RHS in Afrika en dié plaas se tuine is “verteenwoordigend van ons omgewing se botaniese diversiteit”, sê Coetzee.. Eikestadnuus is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.

You need to be Logged In to leave a comment.