Hy het al in feitlik elke afdeling van die universiteit gewerk en ná 52 jaar by die Universiteit Stellenbosch het Basil van Wyk (65) sewe rektore sien kom en gaan.
Basil was met sy aftrede ’n administratiewe beampte en geboubestuurder van die RW Wilcocks-gebou in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die US.
Hy was daar deur die apartheidsjare, toe die US nog net ’n blanke instelling was. Hy was ook daar om die ontbanning van struggle-bewegings soos die ANC en die UDF te aanskou en die dag toe die universiteit die eerste keer in 1992 sy deure vir alle Suid-Afrikaners oopgemaak het.
As jy met Basil praat, is dit duidelik dat hy ’n bewaarplek van institusionele inligting en kennis is wat hy opgebou het van die dag dat hy die eerste keer die US se hoofkampus in Stellenbosch betree het, ’n besluit wat meer deur behoefte as ’n beroepskeuse gedryf word.
“Ek het skool verlaat toe ek 12 jaar oud was en in graad 6. Ek het by my ouma en oupa in Kylemore grootgeword, maar hulle het regtig finansieel gesukkel en ons het geweldig gely as gevolg daarvan. Daar was dikwels nie kos op die tafel nie en soms het ek gewonder hoe ons gesin gaan oorleef,” verduidelik Basil terwyl hy nadink oor 3 Junie 1969, die eerste dag wat hy by die US begin werk het.
“Hierdie daaglikse stryd is die rede waarom ek die skool verlaat en besluit het om eerder ’n inkomste te verdien om tot ons huishouding by te dra. Ek moes my drome om ’n onderwyser te word, prysgee.”
Basil het as ’n algemene handlanger by die universiteit begin werk en is later na verskeie poste soos voorman, verwer en administratiewe beampte en geboubestuurder, bevorder.
“Om suksesvol te wees, moet ’n mens hard werk en die vasberadenheid hê om by jou einddoel uit te kom. Ander mense sal jou nie motiveer nie. Jy moet jouself motiveer. My motivering was die swaarkry wat ek gesien het wat my gesin moes verduur weens ’n gebrek aan geld.
“Ek moes myself afvra, wil jy vir die res van jou lewe sukkel en wil jy jou hele lewe lank op jou laat trap en gebruik word? Wil jy iemand se ‘boytjie’ wees? Dit was hoe ’n mens destyds beskou is.”
Die antwoord was nee en Basil se reis om sy omstandighede te verbeter het so begin. “Ek moes baie harder as ander werk, want ek het nie enige kwalifikasies gehad nie. Ek moes leer om met my oë te ‘steel’ en hoe om verskillende dinge te doen om ’n sukses van my loopbaan te maak.”
Hy het elke kursus voltooi wat hy kon vind en hoewel sommige van hulle nogal moeilik was, het hy volhard. “Daar was dae wat ek in die klas gesit en wonder het, waaroor op aarde praat hulle,” sê hy laggend.
Basil het later ook “teruggekeer” skool toe om sy graad 9 deur die Abet-program te voltooi.
Een van die hoogtepunte van sy loopbaan, sê Basil, was om genooi te word om namens die C3-personeel te praat by die gedenkteken wat in 2014 vir wyle prof. Russel Botman gehou is.
“Hy het ’n oopdeur-beleid gehad en ek het baie tyd spandeer om met hom te praat oor die pos wat hy beklee en hoe hy ’n bydrae kan maak om alle personeel en studente by die universiteit ingesluit te laat voel. Dit was dus moeilik en seer toe hy so skielik dood is.”
Tans werk Basil aan ’n boek oor sy lewensreis. “Ek is geseën op my lewensreis en God het altyd vir my ’n deur oopgemaak wanneer ek dit nodig gehad het.
“As dit nie Sy plan was nie, sou ek nie die dinge gehad het wat ek vandag het nie. Maar dit is ook die opofferings wat my ouma en oupa gemaak het en al hul pogings om my te help met die beperkte kennis wat hulle gehad het, wat my gemaak het wie ek vandag is.”