’n Stellenbosse kunstenaar het nooit gedink die mooie Kaap sal aan hom ’n nuwe materiaal bied om kunswerke mee te skep nie.
Jacques Müller (43) skep nou beelde uit hout met ’n kettingsaag en brand dan die beelde met ’n eeue oue Japanse tegniek.
“Die hout is uniek om die blote feit dat die materiaal ’n wil van sy eie het. Dit is baie moeilik om met hierdie harde houtsoorte te werk, omdat hout ’n taai ding is,” sê Müller, wat byna vier jaar gelede die Jakarandastad vir die Kaap verruil het.
Nog voordat hy met die kettingsaag begin werk, sien hy reeds ’n beeld in die stomp raak.
“Met al die werke laat ek die hout toe om my te wys hoe ver en in watter rigting ek ’n beeld moet vat. Die meeste van die werke het abstrakte, surrealistiese elemente wat ek dan inkorporeer met realistiese dele om ’n geheel te vorm.”
Müller verfyn die houtwerk met hamers en houtbeitels.
Hy gebruik dan Yakisugi, die eeue oue Japanse brandtegniek, as houtpreserveringsmetode. Yakisugi kan letterlik as “verbrande sederhout” vertaal word. Dit is as ’n tradisionele metode gebruik om houtoppervlakke, meestal vir buitegebruik, by tradisionele Japanse huise te beskerm toe daar nog geen chemiese middels vir houtbeskerming was nie. Die tegniek seël en beskerm die oppervlak.
“Dit gee die hout ook ’n pragtige organiese gevoel.”
Met subtiele kleurstowwe beklemtoon hy dan sekere dele van die houtwerk, wat volgens hom die hout lewe gee.
“ ’n Akkerboom van 300 jaar oud lewe nog jare nadat hy geval het. Die hout is metafories van lewe en verganklikheid. Die krake en barste in die hout saam met die gebrande dele neem ’n lewe van hul eie aan en gee diep karakter aan die werk,” sê Müller.
In sy reeks houtwerke, Karoo tot in die Kaap, wat geïnspireer is deur plase en die natuur in en om Stellenbosch, is “honderde jare se energie vasgevang, wat vrygestel word as jy dit ’n nuwe lewe in die vorm van ’n beeld gee”.
Müller, wat aan die Hoërskool Zwartkop in Centurion gematrikuleer en ’n diploma in beeldende kuns aan die destydse Technikon Pretoria behaal het, het in beeldhou en skilderkuns gespesialiseer.
Hy put inspirasie uit die natuur, die lewe in die algemeen en die onvermydelike proses van verganklikheid. Sy skildery en beelde “leef” in vrede saam deur die gebruik van abstrakte elemente soos kleur in sy skilderye en beide organiese en anorganiese voorwerpe in sy beelde om ’n realistiese geheelbeeld te skep.
Sy werk is ingesluit in verskeie versamelings in Suid-Afrika, Australië, Italië, Doebai en die VSA.
Hy het ook al verskeie beelde vir die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gemaak. Dit sluit in ’n nuwe klipbeeld van oudpres. Paul Kruger op sy graf in die Heldeakker in Pretoria, ’n bronsbeeld van Gé Korsten, ’n borsbeeld van genl. Koos de la Rey op sy graf in Lichtenburg, Noordwes, nadat die vorige beeld gesteel is, die Geloofsvryheidsmonument ter viering van die Bybelgenootskap se 200ste bestaansjaar in Franschhoek, en die Sorgmonument in die Irene-konsentrasiekamp in Centurion.
Müller het verlede jaar sy eerste beeld van olienhout, wat hy ook met ’n kettingsaag uitgekerf het, ter viering van die 90ste herdenking van die Bybel in Afrikaans gemaak. Die Bybelgenootskap in samewerking met die FAK en die Voortrekkermonument het saam die Saaier-beeld onthul. – Netwerk24