Die Cloetesville-polisie het met gebruik van tegnologie uiteindelik ’n deurbraak gemaak in die ondersoek na ’n man wat vroeër vanjaar as vermis aangemeld is.
Die polisie het verlede Dinsdag (24 Mei) met behulp van Reutech Radar Systems se tegnologie die beendere van ’n onbekende persoon op Libertas-plaas ontdek en opgegrawe nadat hulle reeds vir drie weke die liggaam probeer opspoor het.
AO Zenobia Sedeman, polisiewoordvoerder, sê hulle het ’n sterk vermoede dat dit die vermiste persoon is, maar dat ’n lykskouing dit moet bevestig. Die lykskouing word môre (Vrydag 3 Junie) gehou.
“ ’n Lykskouing sal gehou word om die oorsaak van dood te bevestig asook DNS-toetse om die identiteit van die slagoffer te bepaal.”
Volgens Sedeman het die polisie ’n deurbraak gemaak in die ondersoek toe hulle ’n paar weke gelede iemand op die plaas in hegtenis geneem het.
“Mense van die plaas het na die polisiekantoor in verband met ’n ander saak gekom en toe die vermiste persoon se foto herken. Hulle het aan die ondersoekbeampte gesê hulle ken die man en dat hy op die plaas vermoor is en sy liggaam in die rivier gegooi is. Maar na verdere ondersoek en ondervragings is dit vasgestel dat daar ’n liggaam op die vullishoop gegooi is.”
Die polisie het toestemming van die plaaseienaar gekry om opgrawings te doen. “Na sowat twee weke het ons geen sukses gehad nie en ons het Reutech genader vir hulp omdat hulle lugfoto’s neem en dit ons dalk kon help. Reutech het ingestem en lugfoto’s van 2020 aan ons verskaf. Dit het gehelp om te bepaal waar ons moet soek,” vertel Sedeman.
Reutech-personeel het Maandag 23 Mei na die plaas gegaan en talle skanderings gedoen voor hulle op die plek afgekom het waar die liggaam was en oor die hele oppervlak met die tegnologie gevee.
“Ons het ons ground penetrating radar-tegnologie, wat hoofsaaklik in mynwese gebruik word, gebruik en frekwensies met ’n bandwydte van 300MHz tot 1GHz in die grond in gestuur. Ons het tydens die skandering ’n groot refleksie opgemerk wat ons na die plek waar die liggaam begrawe was gelei het. Ons het sowat 15 skanderings gedoen,” het Margot Nel van Reutech gesê.
Die beendere, wat in ’n slaapsak toegedraai was, is tydens die opgrawings ontdek. Volgens die polisie was al die beendere in die slaapsak.
Die polisie bedank almal wat met die opgrawing gehelp het.