Sonde met die bure is een ding, maar wanneer ‘n trop beeste in die buurt rondhang, is dit ‘n ander saak.
Inwoners van Onderpapegaaiberg het verlede Sondagmiddag (27 Julie) glo 11 beeste in Distilleryweg by die Bosmans- kruising gesien. Volgens een inwoner,
Karin Herbert, is die vermoede dat die diere uit die Papegaaiberg-natuurreservaat gekom het, waar boere van Khayamandi glo hul beeste laat wei.
Die heining om die reservaat is voltooi, maar is weens onwettige aktiwiteite sedertdien beskadig.
Die rondlopers is by die Stellenbosch-munisipaliteit se wetstoepassers aangemeld, terwyl inwoners van die buurt en die nabye Devonvallei, die trop opgepas het in afwagting op die wetstoepassers. Waarheen die beeste sou loop, was inwoners se grootste kommer.
Slegs twee van die beeste was glo gemerk, wat die opspoor van die diere se eienaars nog meer bemoeilik het.
Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die munisipaliteit, het bevestig wetstoepassers is verantwoordelik om klagtes oor rondloperdiere, insluitend vee, te hanteer. Wat hul optredes bemoeilik, is die afwesigheid van ‘n plaaslike skut.
“Rondloperdiere kan geskut word ingevolge die munisipaliteit se verordening ‘Die Voorkoming van Openbare Steurnisse en die Aanhou van Diere’. Weens die afwesigheid van ‘n skut maak ons gebruik van die dienste van die Stad Kaapstad se dierebeheer-eenheid om diere in die Stellenbosch-munisipale area te skut en na die dierebeskermingsvereniging se skut as ‘n gebeurlikheidsplan te neem,” sê hy.
‘n Tender is uitgereik om ‘n diensverskaffer as skut en die beheer van diere in die munisipale gebied aan te stel.
Nog ‘n munisipale verordening bemagtig wetstoepassers om boetes aan die eienaars van rondloperdiere uit te skryf. “Eienaars word ook verantwoordelik gehou vir skutfooie en die versorging van die diere vir die tydperk wat die diere in die skut aangehou word. Die kostes word van die eienaar verhaal wanneer hy of sy die diere by die skut afhaal,” sê Grobbelaar.
Die beeste is teen 23:30 verwyder.
• Skakel die 24/7- munisipale beheerkamer by 021 808 8999 of op WhatsApp by 079 622 4722 om rondloperdiere aan te meld.





