Ons is die Groot-Drakenstein-behuisingsforum, wat die oudste organisasie in Meerlust-bosbou is en wat die mense verteenwoordig wat in die 35 staatshuise woon; dit is die mense wat vir die staatsdiens gewerk het.
Stuart Grobbelaar, die sogenaamde amptenaar van die Stellenbosch-munisipaliteit, weet nie wat om hom aangaan nie. Die 2007-ooreenkoms is net die Stellenbosch-munisipaliteit en Openbare Werke; daardie ooreenkoms was op ’n amptenaarsvlak sonder die gemeenskap wat langer as 35 jaar op die staatsgrond gewoon en gewerk het. Die werkersgemeenskap van die staat kom al van 1944 af vir baie geslagte lank; ons is die laaste geslag wat gewerk het en ons is uitgesluit van die onderhandelings wat in 2007 plaasgevind het.
As Grobbelaar kan bewys dat ons deel was en in die aangeleentheid geken is, dan moet hy dit namens die Stellenbosch-munisipaliteit kan bewys.
As daar enige mens in Meerlust-bosbou by die onderhandelings oor die plakkerskamp se mense se verskuiwing was, dan moet hy sê wie en wanneer.
Die Groot-Drakenstein-behuisingsforum is al in 1993 gestig en het hom beywer om te veg vir behuising en die grond van Meerlust-bosbou wat 68 hektaar beslaan. Die forum was so ver as die Parlement waar ’n debat tussen Ben Turok, parlementêre leier vir die Paarl-omgewing, en Derek Hanekom, die minister van Grondsake, gevoer is oor die Meerlust-bosbougemeenskap en om die grond aan die gemeenskap oor te dra.
Die Stellenbosch-munisipaliteit en Openbare Werke se amptenare het opgetree soos die apartheidsregering hulle gelei het om ander mense te misken en nie toe te laat dat dié wat nie wit is nie, in geen omstandighede grond mag besit nie. Dit is wat die diskriminerende wet van 1913 oor grondbesitreg gesê het teenoor dié wat nie wit is nie.
Die 68 hektaar is in die middel van ryk ondernemings. Die Stellenbosch-munisipaliteit en Openbare Werke se amptenare dink nog soos voor 1994.
Tussen 2012 en 2017 het die staatsprokureurs gevra die Stellenbosch-munisipaliteit moet die grond in ontvangs neem, maar die Stellenbosch-munisipaliteit het dit van die hand gewys.
Hulle het dit nie aanvaar nie en het dus nie reg op die grond nie, so hulle kan nie mense hier kom vestig nie.
Ons hoop dat die ministers van Openbare Werke en Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming saam met die Groot-Drakenstein-behuisingsforum om een tafel kan sit om die aangeleentheid te kan bespoedig tot voordeel van die mense wat gevra het vir die grond. Die Stellenbosch-munisipaliteit moet net na die tafel kom wanneer hulle genooi word, want hulle kan nie vertrou word nie.