’n Bejaarde paartjie van Idasvallei moet nou hul lewe van voor af begin herbou nadat hulle verlede Donderdag (7 Julie) byna al hulle besittings in ’n brand verloor het.
Die brand, wat by Newmanstraat 39 uitgebreek het, is glo deur ’n kers wat in een van die kamers omgeval het, veroorsaak.
Volgens ’n familielid het die brand skuins voor 19:00 uitgebreek. “Dit was nog beurtkrag en ons het buite in die voortuin ’n vuur gemaak. Die krag was veronderstel om vroeër reeds aan te gaan, maar dit het nie,” het die familielid gesê.
Die familielid sê hulle het die twee bejaardes, albei in hul 70’s, vinnig uit die huis gekry en die brand probeer blus, maar die skade was reeds gedoen en baie van die meubels soos kaste, banke en beddens is uitgebrand. “Ons bou maar nou van voor af – stukkie vir stukkie; dag vir dag – totdat ons weer op ons voete is.”
Volgens die familielid is dit die tweede tragedie wat die egpaar tref. Hulle het vroeër vanjaar ’n seun aan die dood afgestaan. Dit is glo ook nie die eerste keer dat hulle alles in ’n brand verloor nie. “Ons het ’n paar jaar gelede ook alles in ’n brand verloor, so ons weet van weer van voor af opbou.”
Nog ’n familielid, Bridget Petersen, sê hulle is dankbaar niemand het tydens die brand seergekry nie. “Ons is ook baie dankbaar vir die hulp wat die gemeenskap aan ons bied. Van die eerste oproep toe ek Stephanie Heneke om hulp gebel het, het mense hul hart oopgemaak. Ons is dankbaar vir elke skenking, hoe gering of klein ook al.”