Altesaam 14 senior burgers van Pniël het verlede Donderdag (24 November) hul informele basiese rekenaarvaardigheid-kwalifikasies tydens ’n plegtigheid ontvang.
Die seniors het ’n week lange rekenaar kursus by die Pniël E-stentrum voltooi, waar hulle basiese rekenaarvaardighede geleer het.
“Vir baie van hulle was dit die eerste keer dat hulle met ’n rekenaar te doen gekry het,” het Carlin Willenburg, die ontwikkelingsadministrateur by die e-sentrum, verduidelik.
“Dit was baie aangenaam om met die seniors te werk. Ons het dit baie geniet. Hulle was almal baie leersaam en was baie ywerig om met die rekenaars te werk en meer daaroor te leer.”
Die 77-jarige Henry Lackay het die die opleiding as “fantasties” beskryf. “Die fasiliteerders was baie behulpsaam en het ons baie mooi gehelp. Ek is baie opgewonde oor hoe om e-posse te gebruik. Ek is baie lief om briewe te skryf en skryf al van skooldae af – nou kan ek makliker briewe op die rekenaar tik en per e-pos stuur. Dit was die heel eerste keer dat ek met rekenaars te doen gekry het,” het Lackay vertel.
“Ek was eers aanvanklik ’n bietjie skrikkerig om die kursus by te woon, maar het besluit om dit tog te probeer, en ek is nie een oomblik spyt dat ek hieraan deelgeneem het nie.”
Die oudste student, Sophia Adams (81), is in haar noppies dat sy die kursus voltooi het. “Ek is baie opgewonde oor rekenaars en kan nou ook die internet gebruik. Ek hoef nie meer vir ander te vra om my te help nie, so niemand kan my meer vermaak nie. Die kursus was baie goed en ek het baie geleer. Die dames was ook baie gaaf en geduldig met ons. Ek kan nie wag om meer dinge op die internet te leer nie.”
Volgens Devine Thomas, die e-sentrum se bestuurder, het die seniors elke dag twee modules gedoen en aan die einde van die week ’n teoretiese en praktiese toets afgelê. “Ons is baie trots op elkeen, want al 14 van hulle het die kursus geslaag. Dit was ’n plesierige week met hulle en ons sien daarna uit om die volgende groep seniors volgende jaar te verwelkom,” het Thomas bygevoeg.
Die seniors kan nou spog met die nodige vaardighede om MicroSoft-programme soos Word, Excel en PowerPoint te kan gebruik, asook die internet en om e-posse te kan stuur.