Sidney Cyster word deur inwoners as ’n gawe mens, wat altyd gereed was om iemand te help, beskryf.


Die Bolandse dorpie Pniël is in rou gedompel nadat ’n bekende inwoner Dinsdag (28 Maart) in ’n tragiese fratsongeluk dood is toe die trekker wat hy bestuur het, op hom geval het.

Die sakeman, Sidney Cyster, het Dinsdag skuins voor 16:00 op sy plaas met sy trekker en sleepwa teen ’n bult afgery toe die ongeluk plaasgevind het.

Pniel Sidney Cyster

Sidney Cyster word deur inwoners as ’n gawe mens, wat altyd gereed was om iemand te help, beskryf.

Mediese personeel het hom op die toneel dood verklaar.

Volgens ’n bron wat op die toneel was kort nadat die ongeluk gebeur het, het die trekker se groot wiel op Cyster se rug geval. “Hy het op sy maag gelê en die groot wiel het op sy rug gelê. Die sleepwa het eenkant gestaan. Dit het gelyk asof die trekker omgeval het,” het die bron, wat anoniem wil bly, aan Eikestadnuus gesê.

“Toe ek op die toneel kom het ons probeer om die trekker van hom af te kry, maar ons kon nie omdat dit so swaar was. Die reddingsdienste het die trekker van hom afgehaal, maar hy was reeds dood,” het die bron gesê.

Die omstandighede en oorsaak van Cyster se dood is onbekend, hoewel die vermoede bestaan dat hy ’n hartaanval kon gehad het.

Cyster word deur inwoners as ’n gawe mens, wat altyd gereed was om iemand te help, beskryf. Hy word ook as ’n gesinsman en ’n hardwerkende persoon met die wêreld se geduld en respek onthou.

You need to be Logged In to leave a comment.