’n Bekende Franschhoekse speurder, speursers. Marlon Appollis, is vandeesweek op ’n aanklag van strafbare manslag skuldig bevind ná die skietdood van sy kollega, speursers. David Hoffman.
Die gerespekteerde speurders Appollis en Hoffman, ook boesemvriende, was albei in die polisie se teenbende-eenheid.
Appollis is bekend vir sy positiewe bydrae tot die suksesvolle vervolging van Hannah Cornelius se moordenaars sowel as dié van die moordenaars Henri van Breda en Jason Rhode.
Die tragiese voorval het op 17 Augustus 2019 by ’n huis in Skoolstraat, Franschhoek, plaasgevind toe ’n groep ontevrede gemeenskapslede weens ’n onbekende rede skielik by Hoffman se huis opgedaag het.
Die eienaar van die huis het glo eers die polisie gebel nadat die ontstoke, onbekende groep sy perseel verlaat het. Hoffman het Appollis glo ook gebel om hulp te verleen. ’n Skoot is in die voorval met Appollis se dienspistool geskiet en Hoffman is noodlottig gewond.
Dié topspeurder is aangekla van moord met ’n alternatiewe aanklag van strafbare manslag, asook – ingevolge die Wet op Vuurwapenbeheer – vir die roekelose en nalatige hantering van ’n vuurwapen en die hantering van ’n vuurwapen sonder die nodige sorg.
Hy is op die vuurwapen-aanklagte onskuldig bevind.
Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraatraat (Opod) het bevestig Appollis is aan strafbare manslag skuldig bevind en die saak is vir vonnisoplegging uitgestel.
Appollis is aanvanklik van strafbare manslag aangekla, maar die moord-aanklag is in Mei 2020 bygevoeg en strafbare manslag was die alternatiewe aanklag.
Die verhoor het in die streekhof in die Paarl plaasgevind.
Nadat hy skuldig bevind is, is sy borgtog tot vonnisoplegging op 15 November verleng.
Appollis het bewerings teen hom – dat die dood van sy kollega opsetlik was, dat hy grof nalatig was met die hantering van die vuurwapen of dat hy onder die invloed van drank was ten tyde van die hantering van die vuurwapen – betwis.