Stellenbosch het een van sy kleurvolle karakters verloor.
Oudspeurder Gerhard Claassen is vroeg Maandagoggend (6 November) ná ’n kort siekte in die ouderdom van 62 oorlede.
Hy was ’n oudleerling van Paul Roos Gimnasium en het sy diensplig deur die polisie gedoen, waarna hy sy loopbaan in Stellenbosch begin het.
Hy sal veral onthou word as speursersant Claassen en het – soos sy pa – baie jare as polisieman diens gedoen en later speurder geword. Sy spog-oomblik was toe hy skarebeheer om die ontslape oudpresident Nelson Mandela tydens sy vrylating moes toepas.
Claassen was ook betrokke by verskeie opspraakwekkende moorde, waaronder die grusame Ortell-moorde in Die Boord.
Hy het later sy polisieloopbaan vir ’n verkoopsloopbaan by Toyota en ’n landbou-onderneming verruil. Die speurder in hom het egter oorheers en hy het by ’n veiligheidsmaatskappy aangesluit en meer onlangs as vryskutspeurder gewerk.
Claassen was ’n getroue Rotariër en het ook vir baie jare op die bestuur van die eksklusiewe Stellenbosch-klub gedien. Hy laat sy vrou, Hanli, agter.