Die tjellis en komponis Shane Woodborne speel Vrydag 19 April saam met die Amici-strykkwartet.


Die Amici-strykkwartet en die internasionaal bekroonde en Suid-Afrikaans gebore komponis en tjellis Shane Woodborne is Vrydag 19 April op die verhoog van die Endler-saal as deel van die Endler-konsertreeks te sien.

Die strykkwartet bied die Suid-Afrikaanse première van Woodborne se derde strykkwartet aan, en ná die pouse sluit hy hom by die kwartet aan as tweede tjellis in Schubert se groot Strykkwintet in C-majeur D956.

Dis ’n werk van verhewe skoonheid en word beskou as een van die grootste, indien nie die grootste, stuk kamermusiek wat nog geskryf is.

Die Suid-Afrikaans gebore Woodborne het sy tuiste sedert sy studentejare by die Mozarteum in Salzburg, Oostenryk, gemaak.

Hy is sedert 1992 ’n tjellis in die gesogte Salzburg Camerata. As komponis het hy opdragwerke geskep vir onder meer die Beethoven-gemeenskap in Bremen, die Zeitfluss-fees in Salzburg, Jeunesse en die Lin­des­nes-kamermusiekfees in Noorweë.

Dit sluit werke vir koor en orkes en liedsiklus­se, solowerke en kamermusiek in.

Die Amici-strykkwartet bestaan uit vier van Suid-Afrika se bekendste kamermusikante – Suzanne en Philip Martens (viool), Karin Gaertner (altviool) en Peter Martens (tjello).

“Dit is ’n groot eer om die wêreldpremière van Woodborne se derde strykkwartet te ontvang. Woodborne is nie net ’n baie interessante komponis met internasionale aansien nie, maar ook ’n goeie tjellis,” verduidelik Peter.

Benewens hierdie wêreldpremière sal die Amici-strykkwartet en Woodborne ook Schubert se ikoniese meesterstuk, Schubert se kwintet in C majeur vir strykkwartet en ’n tweede tjello, een van die grootste juwele in die kamermusiek-oeuvre, uitvoer.

Die konsert in die Endler-saal begin om 19:00. Kaartjiepryse beloop R165 (algemeen), R125 (pensioentrekkers) en R60 (studente); bespreek jou plek aanlyn via Webtickets.

  • Vir meer inligting, stuur e-pos na concerts@sun.ac.za, skakel 021 808 2358 of besoek www.endler.sun.ac.za.

You need to be Logged In to leave a comment.