Vir meer as drie dekades help Bergzicht Training jongmense van Stellenbosch en omliggende gebiede om hul drome te bewaarheid.
Dié nieregeringsorganisasie het oor die jare heen al meer as 12 000 studente se drome waar gemaak en het verlede week ’n klein seremonie gehou om 30 jaar se sukses te vier.
Die organisasie het met die seremonie ook ’n “naamsverandering” ondergaan en sal eersdaags bekend staan as Bergzicht Training and Development.
Renske Minnaar, die uitvoerende hoof van Bergzicht, wat al meer as nege jaar by die organisasie betrokke is, het op ’n interessante manier dié pos gekry. “Ek is eintlik gevra om in die raad te kom dien, maar ek was net vir ’n kort tyd in die raad – sowat agt maande. Toe besef ek Bergzicht is in groot finansiële moeilikheid en dat hulle my meer kan benut in ’n bedryfopsig.”
Minnaar vertel sy het toe vir ses maande vrywillig gehelp om die organisasie weer op die been te bring nadat dit gesluit was as gevolg van finansiële druk. “Ná die ses maande is ek toe sommer as uitvoerende hoof aangestel, waarna ek toe uit die raad moes bedank – nege jaar later is ek steeds hier.”
Bergzicht Training is aanvanklik gestig om vroue gratis op te lei om ervare huishulpe te word, maar het later soos die jare aangaan homself en programme geherposisioneer na aanleiding van behoeftes in die gemeenskap.
Volgens Minnaar doen die organisasie elke drie jaar ’n onafhanklike opname om te kyk wat die behoeftes in gemeenskappe is. “Ons lei dus nie net blindelings mense op nie, maar gegrond op die uitkomste kan ons sien wat die behoefte is en daarop reageer.”
Die organisasie spesialiseer deesdae in meer as net huishulp-opleiding en poog om veral arm vroue te bemagtig. “Alle studente begin met ’n verpligte lewensvaardigheidsprogram en daarna gaan hulle na een van drie gevorderde programme: kindersorg, voedseldiens-assistent, gesondheid- en verswaktesorg,” sê Minnaar.
Annie Franken, ’n gesondheidswerker en alumnus van Bergzicht, het vertel hoe die program haar lewe verander het. “My passie en droom was nog altyd om te verpleeg, maar my ouers het natuurlik nie die geld gehad om my te laat studeer nie. Ek het toe maar hier en daar gewerk om ’n lewe te maak.”
Franken sê sy was in 1996 werkloos toe ’n vriendin haar van Bergzicht vertel. “1996 was vir my ’n baie moeilike jaar, ek kon nie ’n permanente werk kry nie. Dit het net gevoel dinge werk nie uit nie, tot ek by Bergzicht aangesluit het. My lewe het verander.”