Die Inceba-trust het verlede Woensdag (4 Junie) ‘n byeenkoms by La Motte in Franschhoek aangebied, waartydens rolspelers uit die regering, die private sektor, burgerlike samelewing en akademie byeengekom het om die belangrikheid van samewerking in die versterking van vroeëkinderontwikkeling (VKO) in die Wes-Kaap te bespreek.

“ ’n Kind word nie in isolasie grootgemaak nie – dit verg ‘n gemeenskap – veral wanneer soveel kinders in gebroke gesinstrukture met afwesige vaders, armoede, geweld en trauma grootword,” het Hanneli Rupert- Koegelenberg, stigter van die Inceba-trust, gesê.

“By Inceba vat ons hande met VKO-sentrums, personeel, ouers en versorgers om hoop te koester en die volgende geslag toe te rus om hul skoolloopbaan sterk te begin. Maar ons kan soveel méér deur vennootskappe doen.”

Alan Winde, die premier van die Wes-Kaap, het in ‘n videoboodskap gesê: “Ons moet vir ons kinders die beste begin moontlik in die lewe gee – deur met verskeie rolspelers saam te werk, sodat hulle kan deel hê in ons provinsie se vooruitgang. Alles wat ons as die Wes-Kaapse regering doen, is daarop gemik om ons kinders met die nodige vaardighede en ondersteuning vir sukses toe te rus.”

Nicole Biondi, ‘n voorstander vir VKO en stigter van The Wayfindery, het bygevoeg: “Gelyke toegang tot hoëgehalte-vroeëkinderontwikkeling verg ‘n benadering wat die hele stelsel insluit.

“ ’n Sterk regeringstruktuur is belangrik, maar ons moet ook kyk na die groter prentjie, soos maatskaplike faktore, kultuur- norme, kennis en oortuigings, asook die omgewings waarin kinders en gesinne leef.

“Net so belangrik is die rol van niestaatsrolspelers soos nie-regeringsorganisasies en die sakewêreld.”

Hein Koegelenberg, die uitvoerende hoof van La Motte en Leopard’s Leap Wines, het gesê die private sektor vernuwe, bemagtig en skep werk, maar om ‘n blywende nalatenskap agter te laat, moet nou al werk gemaak word om ‘n geslag bekwame volwassenes groot te maak, wat ‘n positiewe bydrae tot hul gemeenskappe kan lewer.

“Hierdie kinders moet reeds van die begin af – in hul eerste vyf vormingsjare – ondersteun word. Dit is nie net ‘n welsynorganisasie se taak nie; dit is ons gesamentlike verantwoordelikheid,” het hy gesê.

Mariza Lubbe, die direkteur van nakoming en korporatiewe maatskaplike beleggings by

Remgro, stem saam: “Remgro en die breër korporatiewe sektor beskou die belegging in VKO nie net as ‘n filantropiese poging nie, maar as ‘n strategiese belegging in die arbeidsmag van môre en die land se ekonomiese groei.

“Wêreldwye navorsing toon dat toegang tot hoëgehalte-VKO-programme akademiese prestasie verbeter, indiensneming verhoog en misdaad, dwelmmisbruik en tienerswangerskappe verminder.”

Prof. Eric Atmore, direkteur van die Sentrum vir vroeëkinderontwikkeling sê dít hou enorme ekonomiese waarde in. “Vir elke R1 wat in hoëgehalte-VKO belê word, is daar ‘n R13-opbrengs in die vorm van langtermynbesparings.”

Tydens die geleentheid was dit duidelik dat daar ‘n toenemende dryfkrag in die provinsie is vir rolspelers om saam te werk en sodoende ‘n sterk grondslag vir elke kind te bou.

• Kontak die Inceba-trust by info@incebatrust.co.za vir nog inligting of om betrokke te raak.

By die byeenkoms by La Motte in Franschhoek (agter, van links) staan Justin Mason (Sectional Title Solutions), Nielen Bekker (Inceba-trust), prof. Eric Atmore (Sen- trum vir vroeë kinder- ontwikkeling) en Hein Koegelenberg (La Motte). Voor is Hanneli Rupert-Koegelenberg (Inceba-trust), Nicole Biondi (The Wayfindery) en Mariza Lubbe (Remgro).

You need to be Logged In to leave a comment.