Inwoners van die Wes-Kaap word dié Beroerte-bewusmakingsweek (Woensdag 25 Oktober tot Woensdag 1 November) gemaan om gesonder keuses te maak om hul kanse om ’n beroerte te kry, te verminder.
Een merkwaardige oorwinnaar, Deon Lackay van Pniël, beskryf die hersteltydperk as ’n uitdagende tyd. Hy besef nou as hy vroeër ’n gesonder leefstyl gevolg het, sou hy nie vir ’n jaar en ’n half moes baklei om optimale funksionering en sy onafhanklikheid te herwin nie.
Hy kyk egter met dankbaarheid terug na dié tydperk en sê die gesondheidsorgwerkers, die ondersteuning van sy familie en gebede het hom “teruggebring” tot waar hy weer kan loop. Hy het op sy herstelpad byna 60 kg afgeskud en is meer aktief.
Gesondheidsorgwerkers in die Stellenbosch-gebied vier hierdie Beroerte-bewusmakingsweek Lackay se merkwaardige herstel. Tesame met hom, vra hulle mense om hul gesondheid te beveilig en die kans op beroerte te verminder deur elke dag gesond te eet, gereeld aktief te wees, dwelms, alkohol en rook te vermy, voorgeskrewe medikasie soos aanbeveel te neem, en jou dokter te besoek indien jy oor enige aspek van jou gesondheid bekommerd is.
“Ek moes gesonder gelewe en geëet het,” voer Lackay aan. “Dit het ’n beroerte geneem voordat ek dít besef het. Ek het nooit geluister toe mense my gewaarsku het nie. Ek was oorgewig; ek het byna 197 kg geweeg.”
Hy onthou hoe hy op 3 Junie 2022 deur ’n eienaardige gevoel in sy kop oorval is. Later het hy in sy slaapkamer geval en die gesin het die nooddienste na hul woning ontbied. “Die ambulans was vinnig daar. Ek was by my bewussyn en, omdat ek so groot was, moes ek self aan die paramedici verduidelik hoe om my uit die huis te kry.”
Sy vrou, Adelaide, was aan sy sy. Sy onthou toe hulle by die Stellenbosch-hospitaal aankom, het medici gou bepaal Lackay moet vir behandeling na die Tygerberg-hospitaal gaan. Ná 48 uur hier is hy gestabiliseer en na die Stellenbosch-fasiliteit oorgeplaas.
Weens sy unieke omstandighede is besluit hy sal as buitepasiënt ondersteun word, en gemeenskapsgesondheidswerkers het Lackay tydens huisbesoeke ondersteun en gereeld terugvoering met die deskundiges oor sy vordering gedeel. Hy het ook ’n tuisoefenprogram ter ondersteuning van sy herstel gevolg.
“Dit was baie moeilik. Ek het amper pille gedrink om my lewe te beëindig,” sê hy oor die depressiewe tyd in sy lewe.
Lackay was vir maande bedlêend; om in die huis gekluister te wees, om die gebruik van sy een arm en been te herwin en weer alledaagse take te bemeester, was baie moeilik.
Hy is dankbaar vir sy vrou, familie en besoekers wat hom ondersteun het. Hy kon uiteindelik ’n rolstoel gebruik, maar dit het beteken hulle moes veranderings aan die huis aanbring sodat hy kon rondbeweeg.
As hy gesukkel het om van die bed tot in die rolstoel, of die rolstoel tot op die bed of toilet te beweeg, het die fisioterapeut en dieetkundige van Stellenbosch-hospitaal na sy huis gekom om hom te ondersteun. “Mense het baie oor die hospitaal te sê, maar kyk na my – hier staan ek! ’n Instelling soos dit kan nie bekostig om sulke goeie werkers te verloor nie.”
Die eerste twee maande ná die beroerte kon Lackay die reuk van kos wat hy eens geniet het, nie verdra nie. Dít het hom gehelp om ’n gesonder dieet te volg.
As deel van sy werk het hy lang afstande gery en vinnige, maklike kos geëet. Omdat hy gereeld gery het, was hy fisiek nie so aktief nie.
As hy terugdink aan die dae voor die beroerte, besef Lackay dat hy die waarskuwingstekens gemis het. Hy het elke oggend ’n hoofpyn ervaar (wat ongewoon vir hom was) en hy was baie moeg. Hy het pynpille met ’n energiedrankie geneem, en in die aand nog pynpille afgesluk.
- ’n Skielike, erge hoofpyn;
- ’n Skielike swakheid in die arm en been aan een kant van jou liggaam;
- Ervaar skielik swak sig;
- Sukkel skielik met spraak; en
- Jou gesig hang aan die een kant.
Mense wat hierdie tekens ervaar, moet onmiddellik ’n hospitaal besoek. ’n Beroerte is ’n noodgeval!
“ ’n Mens kan nie aan iemand anders verduidelik hoe dit is om ’n beroerte te kry nie. Daar is ook niemand anders om die werk vir jou te doen nie,” sê Lackay.
“Dit was ’n stadige herstelproses. Die eerste keer wat ek weer die toilet kon gebruik, moes ek ’n foto neem om met die fisioterapeut, Lorisha Manas, te deel. Toe ek vir die eerste keer weer op my eie kon stort, het ek uit blydskap in die huis geskree!
“Sodra ek oor iets bekommerd is, besoek ek die kliniek. Ek volg die raad van die gesondheidsorgwerkers tot die letter en weier om sommer medikasie oor die toonbank te koop.”
Die gesondheidswerkers wat hom ondersteun, is saam met Lackay en sy gesin bly oor sy herstel. “Ek onthou die dag toe hy ontslaan is. Sy vrou het gesê: ‘Oor ’n jaar sal Deon hier instap en maerder wees’,” vertel die dieetkundige Lenelle de Lange.
“Ek was bekommerd dat dinge nie in sy guns sou uitwerk nie, maar ek glo sy familie se ondersteuning het die verskil gemaak.”