Vir die klubrugbyspanne Van der Stel-Evergreens (VDE) en Franschhoek is hul wedstryde Saterdag (14 September) op City Park in Athlone die belangrikste wedstryde van die seisoen.
Hulle kom onderskeidelik teen die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en Kraaifontein te staan – VDE om as die kampioen van Superliga B gekroon te word, en Franschhoek om te kwalifiseer om promosie-relegasie te speel teen SK-Walmers, die span wat 13de in Superliga A geeindig het..
Dit is nou die vyfde jaar dat VDE se bure sukkel om bevordering uit Superliga B te verkry. Hulle het elke keer by die laaste hekkie gestruikel. In Franschhoek se halfeindstryd teen UWK op Saterdag 31 Augustus het hy in die eerste helfte goed sy man teen UWK gestaan, maar in die tweede helfte het sy gas opgeraak. UWK het met 34-13 gewen om outomaties vir Superliga B te kwalifiseer. VDE het Kraaifontein met 36-34 gewen nadat die Kraaie nie hul laaste drie kon verdoel nie.
Die Kraaie kan Saterdag ’n hengse aanslag van Franschhoek verwag, maar hulle is ook oorgehaal om ’n span van Stellenbosch vanjaar die loef af te steek.
Vir VDE is dit ’n pluimpie dat hy vir Superliga A in 2025 gekwalifiseer het. Dit beteken dat daar vir die eerste keer in meer as 20 jaar twee Stellenbosse spanne in Superliga A sal speel.
Van der Stel het destyds saam met Maties in die Grootuitdaag-kompetisie van die WP Rugbyunie gespeel, maar het oor die jare van die toneel verdwyn.
In 2017 was daar samesprekings tussen Van der Stel en Evergreens van Vlottenburg om as ’n gekombineerde span aan die sone-kompetisie deel te neem. ’n Ooreenkoms is bereik en VDE het in 2017 en 2018 in die Noordelike-liga deelgeneem, maar in die Promosieliga vasgeval en moes in 2019 weer in die Noordelike-liga meeding. In 2022, nadat sport ná die Covid-inperking hervat is, het Alastair Siegelaar, ’n voormalige skrumskakel van die WP en die Leeus, die leisels as hoofbreier oorgeneem. Die klub se eerste en tweede spanne het bekers gewen en vir Superliga C gekwalifiseer.
In 2023 het die klub voortgebou en eerste op die punteleer geëindig, maar in die eindstryd teen Hamediehs vasgeval. Die span het wel vanjaar daarin geslaag en Hamediehs in die kwarteindstryd uitgeskakel.
Maties is reeds in Superliga A en moet Saterdag teen Unimil om die derde plek uitspeel nadat Hamiltons hom met 33-19 ore aangesit het en Durbell diep moes delf vir hul 22-19-oorwinning oor Unimil. Die kampioen van Superliga A sal na afloop van die wedstryd tussen Hamiltons en Durbell gekroon word.
In Superliga C sal Macassar wil wys hy hoort in Superliga B wanneer hy teen Primrose te staan kom. Macassar het Atlantis in sy halfeindstryd 30-17 geklop, terwyl Primrose met 24-13 teen Goodwood geseëvier het. Atlantis en Goodwood speel nou uit om te bepaal wie teen Strand in ’n promosie-relegasie-wedstryd sal speel.