Universiteit Stellenbosch (US) se raad het tydens ‘n vergadering op Saterdag 20 Februarie besluit dat “die taalbeleid, -plan en -spesifikasies buigsaam toegepas mag word”.
AfriForum het onlangs ‘n hofaansoek ingedien om die US te verplig om te verseker die huidige taalbeleid word gevolg ná die regsgeleerdheid en ingenieurswese fakulteite besluit het om Engels as voertaal te gebruik.
US het die knie gebuig en onderneem om te verseker Afrikaans en Engels is op gelyke voet, maar die nuutste besluit blyk om dié onderneming te weerspreek.
Volgens adv. Jan Heunis, president van die US-konvokasie, is die doel van hierdie besluit “om aan die bestuur volmag te gee om, soos daar in 2016 weggespring is, voort te gaan met Engels as voorkeur onderrigtaal ten spyte daarvan dat dit ‘n afwyking van die taalbeleid is en dat daar ‘n skriftelike onderneming aan AfriForum gegee is dat dit gestaak sal word.”
“Wat in effek gebeur het, is dat die raad ‘n ondersoek gelas het na die oorsaak van die onverkwiklike situasie waarin die universiteit sigself bevind as gevolg van die afwyking van sy taalbeleid en daarna, maar teenstrydig met ‘n bindende ooreenkoms met AfriForum, sy eie taalbeleid, waarvan hy glo die bestuur afgewyk het, probeer verander het om in ooreenstemming te wees met wat die bestuur besig is om aan te vang.”
“In die proses het die raad vir alle praktiese doeleindes sy beleid van meertaligheid versaak en ‘n beleid van buigsaamheid, wat die doodsklok vir Afrikaans is, aanvaar.
“Die raad het, soos wat die bestuur voortdurend doen, gebuig.”
Heunis sê ook die aanstelling van ‘n komitee om advies oor taal en taalbeleidshersiening aan te bied is van “skrale troos” aangesien rektor en visekanselier prof. Wim de Villiers op hierdie komitee gaan dien.
De Villiers het verlede jaar groot ongelukkigheid onder sommige studente veroorsaak toe hy voorgestel het Engels moet die primêre voertaal by die universiteit wees.
“Hierdie verwikkelinge het baie ernstige implikasies, nie alleen vir die Universiteit van Stellenbosch nie, maar ook vir onderwys in die breë, veral in die Wes-Kaap,” sê Heunis.
“Ek beoog om in die nabye toekoms en op ‘n dringende basis samesprekings met ander rolspelers te voer ten einde op ‘n strategie te besluit om hierdie dwaasheid te probeer hokslaan.”