Die amptelike opening van die 2023-Woordfees op 6 Oktober vind aan die gesellige Langtafel onder die eike, tussen die pragtige ou geboue in van Ryneveldstraat, plaas. Vanjaar verskaf Bertus Basson en die topdrie-spanne van kykNET se gewilde koswerklikheidsreeks Kokkedoor: Vuur en Vlam inspirasie vir die aand se spesiale spyskaart.
Vir Kokkedoor: Vuur en Vlam moet deelnemers alles in die vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster voorberei om die beoordelaars Bertus Basson en Kobus Botha met hul braaivaardighede te beïndruk. Langtafelgaste kan dus op ’n vuurwarm maaltyd reken, maar plek is uiteraard beperk.
Kaartjies vir die Langtafel kos R900 per persoon en sluit ’n driegangmaaltyd in. Daar is 10% afslag vir groepbesprekings. Gaste word verwelkom met ’n glas borrels of wyn met die komplimente van Stellenbosch-wynroetes.
Daar is meer as 50 ander aanbiedings op die Leefstyl-program wat bestaan uit ’n wye verskeidenheid van lekker en interessante goed om te verken, eet, drink, leer en ervaar. Jy kan gaan stap, draf, joga of met ’n e-fiets ry, tuine kyk, kookdemonstrasies bywoon, argitektuurtoere meemaak en alles proe en geniet wat die wynlande en Stellenbosch se koskultuur te bied het.
Kry kaartjies hier: https://www.quicket.co.za/events/224252-toyota-us-woordfees-langtafel/?ref=events-list#/