’n Spesiale veldtog om gesinne in nood in die gemeenskap van Kylemore te ondersteun is vandeesweek van stapel gestuur. Die Steps of Hope-veldtog het Maandag 5 Junie amptelik begin.
Die veldtog is ’n samewerkingspoging tussen Siena-sopkombuis, die Kylemore-sopkombuis onder toesig van Siena Charles, en die Stellenbosch-gebaseerde organisasie sonder winsoogmerk, Ranyaka Community Transformation.
Met soveel Kylemore-inwoners wat seisoenwerkers is en nie ’n inkomste gedurende die wintermaande het nie, heers ’n groter behoefte aan veral kos in hierdie tyd.
“Die sopkombuis bedien drie keer per week maaltye aan kinders en gesinne in nood danksy die ondersteuning van die Stellenbosch-voedingsaksie asook individuele skenkers van ’n plaaslike residensiële landgoed, Pniel en Kylemore. Ons reik ook uit na Lanquedoc wanneer ons spesiale versoeke vir hulp uit daardie gemeenskap ontvang,” sê Charles.
“Ons sal graag die gemeenskap elke dag van die week wil dien, maar dit hang net af of ons genoeg bestanddele het.”
Charles het onlangs na Ranyaka uitgereik om ’n beroep te doen vir hulp om die gemeenskap nog verder te ondersteun.
Siena-sopkombuis doen ’n beroep op plaaslike ondernemings en lede van die publiek om nuwe of tweedehandse skoene, wat in ’n goeie toestand is, sowel as klere of komberse aan die Steps of Hope-veldtog te skenk om ’n verskil in hierdie gesinne se lewe te maak. Skenkings van nie-bederfbare kos is ook welkom.
Aflaaipunte is by die Ranyaka-kantoor by Cabernet House-Wes (eerste vloer) in Brandwacht-kantoorpark in Trumalistraat, Stellenbosch, asook die CoCreate Hub by Victoriastraat 7 in sentraal-Stellenbosch. Skenkings kan daagliks tussen 9:00 en 16:00 afgelaai word. Skenkers word versoek om Sonya Olivier by 082 302 3886 te kontak voordat hulle produkte by die kantoor aflaai.
Finansiële skenkings is ook welkom en artikel 18A-belastingsertifikate kan deur Ranyaka uitgereik word vir skenkings van R500 of meer.
Vir meer inligting, kontak asseblief Sonya Olivier by 082 302 3886 of stuur ’n e-pos-boodskap na admin@ranyaka.co.za