’n Nuwe daeraad breek aan vir die 2024 Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK) met ’n nuwe tuiste en 13 nuwe ontluikende sterre onder die 20 gekeurde klassieke musieksensasies.
Voorbereidings vir die 40ste NJMK wat van Maandag 2 tot Saterdag 7 Desember by die Endler-saal in Stellenbosch aangebied word, is in volle swang.
Die 20 tienersterre sal in die week-lange kompetisie, vir totale prysgeld van R180 000, plus die gesogte titel as wenner, ’n goue medalje, silwer en brons medaljes, wedywer. Onder hulle is die 18-jarige pianis Hermanus Schmidt van Stellenbosch.
Die invloedryke kompetisie vir klassieke instrumentaliste stel die kollig op talentvolle jong Suid-Afrikaanse musici tussen die ouderdomme van 14 en 19 jaar. ’n Paneel van gevierde musici het 20 kandidate deur video-oudisies gekies.
Hulle sal in vyf kategorieë vir orkesmusiekinstrumente – klavier, stryk-, houtblaas-, koperblaas- en ander orkesinstrumente (harp, slagwerk, marimba, xilofoon, ensovoors) – meeding.
Oor die vyf-dae lange wedstryd, moet die deelnemers ’n wye repertoire van hulle eie keuse speel. Dit dek verskillende stylperiodes en Suid-Afrikaanse komposisies. Al die mededingers sal in die eerste twee rondes speel. Daarna sal 12 semifinaliste in die derde ronde (halfeindronde) meeding om die voorste ses musici aan te wys.
Daar is vanjaar deelnemers in al vyf kompetisiekategorieë. Die pianiste kraai koning met sewe mededingers, gevolg deur ses ontluikende strykersterre. Kort op hul hakke is daar vyf houtblasers. Die res van die groep bestaan uit een koperblaser en ’n marimbaspeler in die kategorie vir ander orkesinstrumente.
Sewe van die musikante het al voorheen aan die NJMK deelgeneem, en ’n indrukwekkende 13 jongelinge ding vir die eerste keer mee om die gesogte titel. Hulle is van oor die hele land gekies.
Die drie jongste sterre (14 jaar) woon in die Wes-Kaap, ses van die deelnemers is studente van die Universiteit Stellenbosch, Universiteit van Kaapstad en Universiteit van Pretoria.
Die name van die beoordelaars en kaartjiepryse vir die galakonsert op Saterdag 7 Desember sal nader aan die tyd aangekondig word. Toegang tot die eerste drie rondes van 2 tot 5 Desember is gratis.
Die wenner en finale ranglys van die NJMK word kumulatief oor vier rondes bepaal. Dit is die enigste kompetisie in Suid-Afrika waar die ses finaliste sake vir die louere, begelei deur die Kaapstadse Filhamoniese Orkes (KFO), uitspook. Die derde ronde met die 12 semifinaliste, sowel as die vierde ronde se galakonsert sal regstreeks op die NJMK se webblad gestroom word.