Beurtkrag oorsaak van stank en slyk in Eersterivier

Inwoners langs die Eersterivier in Stellenbosch het Dinsdag 28 Februarie ’n onaangename verrassing in die rivier gekry toe afval van Stellenbosch se afvalwaterbehandelingswerke in die rivier beland het en ’n ondraaglike stank gelaat het.


Inwoners langs die Eersterivier in Stellenbosch het Dinsdag 28 Februarie ’n onaangename verrassing in die rivier gekry toe afval van Stellenbosch se afvalwaterbehandelingswerke in die rivier beland het en ’n ondraaglike stank gelaat het.

Stuart Grobbelaar, munisipale woordvoerder, sê dat ’n meganiese skerm by die behandelingswerke omstreeks 12:54, as gevolg van verwering weens die aan- en afskakel tydens beurtkrag, onklaar geraak het.

“Die voortgesette ontplooiing van hoë vlakke van beurtkrag plaas enorme druk op munisipale infrastruktuur en meganiese stelsels wat eenvoudig nooit ontwerp is om soveel keer aan- en afgeskakel te word of ure aaneen te werk sonder ’n betroubare kragtoevoer nie,” sê hy.

“Die meganiese onklaarraking het veroorsaak dat die vloei van die membraan-afdeling na die geaktiveerde slyk-aanleg (ASP)-gedeelte afgekeer is. Die volle vloei was egter te veel vir die ASP-afdeling om te hanteer en die gevolg was dat van die slyk saam met die skoon en behandelde water oorgeloop het.”

Grobbelaar sê die munisipaliteit het dadelik die diensverskaffer gekry om saam met sy eie instandhoudingspan die skerms te herstel en die vloei te herstel.

“Die herstelwerk is op dieselfde dag teen 17:30 voltooi, met die vlak van die nooddam wat na normaal teruggekeer en sodoende die slykoorloop gestop het.”

Freddie Kirsten van die plaas Goedvertrouw sê egter die probleem duur al langer as tien dae.

“Ons sukkel al vir tien dae om hulp van die munisipaliteit te kry, maar geen hulp het opgedaag nie. Dit was Dinsdag die ergste.”

Grobbelaar sê dit was nie ’n 10 dae lange storting soos beweer word nie.

“Daar was ’n aparte storting op 9 Februarie as gevolg van ’n pompprobleem. Dit is binne twee uur onmiddellik op die terrein opgelos.

“Neem asseblief kennis dat dit nie rou of onbehandelde rioolwater was wat van die aanleg kom nie, maar slyk wat saam met die behandelde water oorloop. Ons waterspan werk voortdurend daaraan om onderhoud onder hierdie moeilike omstandighede te verbeter en om meer kragopwekkers aan te skaf,” sê Grobbelaar.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.