Dowe stappers kan nou met gerustheid en sonder enige kommunikasie-hindernisse by Idasvallei-gemeenskapstaproetes (IGS) stap wanneer mense in gebaretaal begelei gaan word.
Vyf roetebewaarders van die IGS het onlangs ’n week lange kursus in gebaretaal suksesvol voltooi en sê hulle is opgewonde om die ervaring van die dowe stappers meer plesierig te maak.
Die kursus is deur die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling in samewerking met DeafNet en Stellenbosch-munisipaliteit se departement van gemeenskapsontwikkeling aangebied.
“Aangesien hierdie kursus die basiese kennis van gebaretaal vir ons geleer het, stel dit ons in staat om toeriste en gemeenskapslede wat doof is te akkommodeer indien ons hulle op toere vat of op ons roetes kry. Hierdie wys ook ons as organisasie is inklusief en tref voorsorg vir mense wat gebaretaal gebruik. Ons kan nou kort gesprekke met dowes voer,” sê Eon Hendrickse, direkteur en medestigter van die IGS.
“Dit gaan die deelnemers wat die kursus suksesvol voltooi het help om aansoek te doen vir ander werksgeleenthede aangesien gebaretaal nou ook ’n amptelike taal in ons land is.
“Ons het baie oor dowes geleer en dat dit baie maklik is om teen mense wat gehoorverlies het te diskrimineer,” voeg hy by.
Hendrickse sê hierdie kwalifikasie is ’n groot voordeel vir die wat hulself baie in die toerismebedryf bevind en wat te doen gaan kry met toeriste wat dalk doof is. “Tweedens beteken dit baie vir die organisasie, want ons doel is om diegene in ons program meer opvoedkundige geleenthede te gee. So, ’n ou wat dalk nie matriek klaargemaak het nie kan nou spog met ’n NQF-vlak-4-kwalifikasie en dit is die soort geleenthede wat ons as IGS aan diegene wil bied wat deel is van die organisasie.”
Hendrickse bedank die Wes-Kaapse regering, Stellenbosch-munisipaliteit, Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit SA TRAILS Network en Imperial.