G.F. Loedolff se brief in die Eikestadnuus van 19 Januarie (“Munisipale wanbetalings) skep ’n algehele wanvoorstelling van die feite van die situasie.

Die betrokke kontrakwerkers is deur die munisipaliteit aangestel om in biblioteke te werk. Sommige het voldagkontrakte en ander het afloskontrakte onderteken. Daar bestaan nie so iets soos Libra nie. Libra is ’n verkorting van “Library Services”.

Mnr. Loedolff probeer die indruk wek dat daar ’n afsonderlike maatskappy betrokke is. Dit is nie die geval nie. Die kontrakte is tussen die munisipaliteit en die werknemers. Hierdie spesifieke kontrakte is aangegaan nadat hul vorige kontrakte verval het. Die afloskontrak meld geen minimum ure nie en maak geen belofte van werk nie. Dit maak wel voorsiening dat die werknemer ander werk in die munisipaliteit kan doen, indien daar ’n behoefte van die werkgewer is. Die kontrak meld ook dat die werknemer wel ander werk buite die munisipaliteit kan doen, maar met toestemming van die munisipaliteit. Toestemming sal nie onredelik weerhou word nie.

Weens ’n administratiewe berekeningsfout is die werknemers oorbetaal ten opsigte van die laaste maand van hul vorige kontrakte. Afgesien van twee mense, het al die ander werknemers hierdie oorbetaling van hul salarisse reeds aan die munisipaliteit terugbetaal. “Werker nr. 7”, soos na verwys word deur mnr. Loedolff, het ’n afloskontrak geteken. Daar was aanvanklik geen behoefte aan haar dienste nie, gevolglik is daar nie gevra dat die persoon moet kom werk nie. Sy het later self vrywillig bedank en die kontrak is dus beëindig.

Die stelling dat geen verduideliking verskaf is vir die bedrag oorbetaal deur die munisipaliteit nie, is onwaar. Mnr. Loedolff en Werker nr. 7 was by die munisipaliteit waar alles presies verduidelik is en selfs afskrifte van alle tersaaklike dokumente aan hulle oorhandig is. Die munisipaliteit is in besit van ’n skrywe deur mnr. Loedolff waarin hy ’n amptenaar bedank vir die mooi wyse waarop die situasie aan hulle verduidelik is.

Hierdie saak kom al ’n geruime tyd aan en ten spyte van die feit dat die munisipaliteit deurlopend met mnr. Loedolff vergader het en afskrifte van alle dokumente aan hom verskaf is, weier hy om die waarheid te aanvaar. Niks verander egter die feit dat Werker nr. 7 foutiewelik te veel salaris betaal is wat haar nie toegekom het nie en wat sy derhalwe aan die munisipaliteit verskuldig is. Sy bewerings van geldwassery en beweerde korrupsie is heeltemal sonder waarheid of meriete.

Geraldine Mettler,

Munisipale bestuurder, Stellenbosch

You need to be Logged In to leave a comment.