Drie gimnaste van HMS Bloemhof het die afgelope paar weke goed presteer.
Lise de Villiers (gr. 8) het in Augustus aan die Wynland-distrikskampioenskap deelgeneem waar sy as die algehele wenner in haar afdeling aangewys is. Sy het drie goue en een silwermedalje op verskillende apparate verwerf.
Lise en haar HMS-spanmaat Anika de Vries (gr. 10) het op 28 Augustus aan die Wes-Kaap-kampioenskap in Saldanha deelgeneem.
Al twee ding in artistiese gimnastiek op vlak ses mee.
Anika het ’n tweede plek behaal terwyl Lise as die wenner gekroon is. Dié twee is gekies om die Wes-Kaap-span by die Suid-Afrikaanse kampioenskap op 4 Oktober in Gauteng te verteenwoordig.
Nina le Hanie (gr. 8) het op 3 September aan die Wes-Kaap-kampioenskap by die Eversdal-gimnastiekklub in Brackenfell deelgeneem, waar sy ’n goue medalje en haar provinsiale kleure vir tuimel op vlak sewe verwerf het.
Net soos Anika en Lise is Nina ook in die Wes-Kaap-span opgeneem wat in Oktober by die Suid-Afrikaanse kampioenskapsbyeenkoms in Gauteng gaan deelneem.