Biggie bevorder Klapmuts-musiek

Met meer as ’n dekade se ervaring in die musiekbedryf wil ’n plaaslike kunstenaar van Klapmuts ’n platform vir jong kunstenaars en musikante van die dorp skep waar hulle hul talente ten toon kan stel.


Met meer as ’n dekade se ervaring in die musiekbedryf wil ’n plaaslike kunstenaar van Klapmuts ’n platform vir jong kunstenaars en musikante van die dorp skep waar hulle hul talente ten toon kan stel.

King Biggie, ’n sanger en rymkletser, sê sy fokus is om plaaslike kunstenaars te bevorder en vertonings in die gemeenskap te reël en op te voer. “Ons kry steun van baie plaaslike organisasies, soos die vroue op die plaas, Capewinelands FM en e’Bosch, en plaaslike plaasboere soos ARRA,” voeg hy by.

“Hier is baie talent in Klapmuts en ek dink die jongmense van die dorp het baie om die vermaaklikheidsbedryf te bied, maar hulle kort die regte leiding van mense wat in die bedryf was en weet hoe dit werk,”sê Biggie.

Biggie sê hy is in die Oos-Kaap op ’n plek genaamd Dordrecht gebore. “Ek het ’n jaar nadat ek Kaap toe gekom het, Klapmuts toe getrek, waar ek op die plaas van Bokkie de Toit grootgeword het. Nadat ek uit Klapmuts weg is, het ek en my gesin in Kraaifontein gewoon, waar ek by bendebedrywighede betrokke geraak het. Ek was ’n leier in die Mosag-bende,” onthou Biggie.

Hy vertel verder die lewe het hom op verskeie draaie gevat. “Ek het in die jaar 2000 ’n Rasta geword, die bendebedrywighede gelos en my voltyds aan my musiek toegewy.”

Biggie het sedert sy toetrede tot die musiekbedryf saam met verskeie bekende kunstenaars, soos Zola7, Mandoza, Freshly Ground, Zakwe, Ready D en Tsidi van Malaika, opgetree.

“Ek het in 2010 tydens die sokkerwêreldbeker die geleentheid gekry om in Amsterdam in Nederland, in ’n plek genaamd Dordrecht, op te tree. Ek het met my terugkoms ’n kunstenaar van Zimbabwe, Alynice, ontmoet en ’n liedjie, ‘Ndikoko Ndikoko’, opgeneem, wat baie sukses op die radio geniet. Ons is ook besig met die musiekvideo-opname van ‘Ndikoko Ndikoko’,”sê Biggie.

Biggie sê hy het in 2021 Vobe Movement en die Vobe Development in Klapmuts begin om die kunste in Klapmuts te bevorder. “Die doel is om elke jaar ons eie liggiesfees te hê. Ons wil helde in die musiekbedryf ontwikkel en plaaslike kunstenaars soos Jonny Boy, Relly G, Mandela City Cultural Dancers en die Amapiano-groep van dorp tot dorp te neem. Ons wil hulle weghou van verkeerde dinge soos dwelms en bendebedrywighede.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.