BIng-graad ten spyte van lewe in ’n rolstoel ná gru-ongeluk

Jay-Dee Meyer, ’n student in elektriese en elektroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US), ontvang hierdie week haar graad, ondanks ’n lewensveranderende voorval kort voor haar finale jaar.


Jay-Dee Meyer, ’n student in elektriese en elektroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US), ontvang hierdie week haar graad, ondanks ’n lewensveranderende voorval kort voor haar finale jaar.

Meyer, wat oorspronklik van Johannesburg is, en haar gesin het na die Wes-Kaap verhuis toe sy ses jaar oud was. Sy het haar hoërskoolopleiding by Rhenish Girls’ High School in Stellenbosch begin, waar sy in die koshuis gebly het. Sy het verlief geraak op dié skilderagtige dorp, wetende dat dit is waar sy eendag wil studeer.

Om ’n BIng-graad in elektriese en elektroniese ingenieurswese aan die US te volg, was die keuse vir haar voor die hand liggend aangesien sy ’n passie het vir elektrisiteit (“electricity must be the coolest invention ever!”) en probleemoplossing (“to be able to make a difference in the world”).

Meyer se lewe het egter aan die einde van 2022 ’n onverwagse wending geneem toe sy op ’n dag 4 m ver uit ’n boom geval en op beton te lande gekom het. Sy het haar ruggraat ontwrig en gebreek, wat haar lewenslank van haar heupe af verlam gelaat het.

Twee maande van rehabilitasie en heraanpassing aan haar nuwe lewe het gevolg, en sonder om deur die gru-ongeluk ontmoedig te word, het sy besluit om terug te gaan en haar finale jaar te voltooi.

Meyer sê daar is meer emosionele as fisieke uitdagings. Sy sê die US is reeds redelik toeganklik en dat die dekaan, prof. Wikus van Niekerk, seker gemaak het sy het alles wat sy nodig gehad het.

Sy onthou dat sy selfbewus was met haar terugkeer na die fakulteit en dat almal vir haar gekyk het. ’n Paar dae later het sy egter iets wonderlik besef – dat niemand haar aanstaar met bejammering nie, maar eerder met bewondering. Haar hele lewe is onderstebo gekeer, maar tog is sy hier, het sy opgedaag en glimlag sy, bly om op universiteit te wees wetende dat dit ’n voorreg is.

Om gemotiveerd te bly te midde van teëspoed was egter nie altyd maklik nie. Meyer sê daar was dae wat sy so oorweldig was deur die lewe dat sy nie eens ’n boek kon oopmaak nie. Maar sy was geduldig met haarself en het bly onthou dat stadige vordering beter is as geen vordering nie.

Toe sy regtig motivering nodig gehad het om haar deur die meer uitdagende dae te dra, het sy bly visualiseer hoe sy tydens die gradeplegtigheid oor die verhoog in haar rolstoel sal rol en haarself ook herinner aan haar groter doel om ingenieur te word. Sy sê die truuk met ’n moeilike dag is om nie toe te laat dat dit twee dae word nie. Sy sê verder om tydens teëspoed die balans te vind tussen dissipline en genade, kan moeilik wees, maar dit is ’n belangrike vaardigheid.

Haar finalejaarprojek is iets wat haar na aan die hart lê – die ontwerp van ’n batterybestuurstelsel vir ’n windenergie-omskakelingstelsel (Wind Energy Conversion System) wat deur die Suid-Afrikaanse Antarktiese navorsingsbasis gebruik word.

Sy het die projek vreeslik geniet aangesien sy reeds bewus was van haar passie vir hernubare energie. Meyer voeg by dat enigiemand wat ingenieurswese studeer, besef – hoe meer jy weet, hoe meer weet jy wat jy nie weet nie.

Sy beskryf die navorsing as ’n bykans ongelooflike reis wat uitdagend en soms frustrerend was, maar dat sy op die ou einde ongelooflik dankbaar is vir hoeveel sy kon leer en dat sy ’n nuwe waardering het vir hóé kompleks hernubare energie wel is.

Soos sy terugkyk op haar pad oor die afgelope maande, deel sy waardevolle raad met ander wat teëspoed in die gesig staar. Sy sê geluk in die lewe is nie die afwesigheid van probleme nie, maar wel die vermoë om dit te oorkom.

Verder sê sy elke enkele uitdaging in die lewe kan óf as ’n struikelblok in jou pad óf as ’n geleentheid om jouself te bewys, gesien word, en is iets waardevols waaruit jy kan leer. Alles hang af van jou ingesteldheid.

Waar sy nou ’n nuwe hoofstuk in haar lewe aanpak – as beheeringenieur by Sasol in Sasolburg in die Vrystaat – bly haar strewe geanker in haar verbintenis tot hernubare-energie-projekte. Haar droom is om in Suid-Afrika aan hernubare-energie- en mikronetwerk-projekte te werk, wat hopelik die land se koolstofvoetspoor sal verklein – iets wat ’n stap in die regte rigting sal wees vir ? meer volhoubare toekoms vir SA.

Benewens haar loopbaan hoop Meyer om eendag ’n nie-regeringsorganisasie te stig wat tweedehandse rolstoele aan behoeftiges verskaf, wat haar toewyding beklemtoon om ’n verskil in ander se lewe te maak.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.