Noordkaap Bulletin

Binnewêreld skeppend na vore tydens klasse by kuns- en beradingstudio

, ,

Kinders en volwassenes kry die kans om emosies skeppend te uiter by ‘n kuns- en beradingstudio in KImberley wat van krag tot krag groei.

Kunswerk van student van Nicoleen Smit

Haar studente het al toppryse in kunskompetisies oor die land heen gewen. Daarom is Nicoleen Smit van Nicoleen’s Art and Counselling Studio in Kimberley optimisties dat hul kunswerke wat vir die There is More to Us-kunskompetisie ingeskryf word, uitstekend sal vaar.

Dié kompetisie fokus op geestesgesondheid en word deur ‘n sielkundige in Pretoria aangebied.

Wenners ontvang kontantpryse en die kunswerke word daarna opgeveil. Die opbrengs word aan verdienstelike organisasies wat in geestesgesondheid spesialiseer, geskenk.

Sedert Nicoleen haar kuns- en beradingstudio geopen het, het dit van krag tot krag gegroei.

“Ek kry geweldige bevrediging om kinders en grootmense van kuns te leer, en vir sommige gee ek berading deur kuns.”

Nicoleen het ‘n hoër diploma in beeldende kuns, ‘n graad in kinderberading en ‘n honneursgraad in kunsterapie. Sy is baie trots op haar kunsstudente, van wie sommige oorloop van geesdrif en kunstalent.

Jeugdiges met ongelooflike talent

Muso Barend is ‘n 15-jarige seun wat weekliks van Galeshewe stap om die kunsklas by te woon.

“Hy het ongelooflike talent en word vanjaar deur dr. Anthony Thomas geborg. Hy teken graag portrette en vang die nuanses in menslike gesigte in sy pensketse vas.”

Lonwabo Jantjies (8) het verlede jaar die laerskoolafdeling van die ARTi Gallery Art Competition (Agac) van Klerksdorp gewen. Dit fokus op Suid-Afrikaanse en binnenshuise kunstenaars. Deelnemers moes ‘n klassieke kunswerk met Afrika-elemente verryk. Hy het die hemelruim van Vincent van Gogh se skildery, “The Starry Night,” gebruik en onderaan Afrika-hutte met motiewe aan die mure geverf.

Lonwabo en ook Aedon Daries (12) se kunswerke is in die 2025-kalender van die Santam Kinderkuns-kompetisie ingesluit. Sowat 3 900 inskrywings is ontvang. Die tema was “Welkom in my gelukkige plek.”

Die oogmerk van die kompetisie is vir kinders om hul gedagtes en emosies skeppend uit te druk.

Nicoleen en twee assistente, Refilwe (Fifi) Senyatso en Michaela van Heerden, bied een keer per week, op Maandae en Woensdae, kunsklasse vir 40 kinders in verskillende klasse aan. Dinsdae, Donderdae en Vrydae doen sy kunsberading vir groepe, volwassenes en kinders.

Soms bied sy kunsaande vir volwassenes en ontspannende vakansiekuns aan.

Kuns ‘wonderlike vorm van berading’

“Dit is vir sommige mense moeilik om gevoelens in woorde uit te druk, maar nie in kuns nie. In ‘n kunsberadingsessie kan mense hul gevoelens in enige medium soos klei, skilder en sketse uitdruk. Een interessante tegniek is ‘n “black-out poem.”

“Die kliënt omkring woorde in ‘n boek se bladsy wat tot hom of haar spreek en skryf ‘n gedig of liedjie met die betrokke woorde. Die lied of gedig word gewoonlik deur die persoon illustreer. Hieruit word antwoorde oor diepgaande kwellings baie duideliker.

“Kuns in enige vorm, met enige medium is ‘n uitdrukking van ‘n mens se binnekamer, en ‘n wonderlike vorm van berading.”

Nicoleen Smit in haar ateljee
Nicoleen Smit van Nicoleen’s Arts and Counselling Studio in Kimberley. Foto: Charné Kemp

Nicoleen, wat self terapie vir trauma ontvang, skryf van haar eie kunswerke saam met haar studente s’n vir die kunskompetisie oor geestesgesondheid, in.

“Een van my tekeninge is die gesig van ‘n bejaarde vrou. Die diep groewe in haar gesig spreek van ‘n leeftyd van uitdagings, asof sy baie lewens probeer inpas het in een.”

Haar ander kunswerk gaan oor trauma oor geslagte heen. Drie gesigte is in die boomwortels en stam sigbaar – die ouma, die ma en die kind.

“Trauma spoel van die ouma na die ma, na die kind oor. Die kind is nie meer klein nie, en die vorige geslagte is dood. Die kind is vasberade om die trauma-oordrag te breek. Genesing moet êrens begin.”

Nicoleen Smit

Van die kunswerke wat ingeskryf word, is onthutsend, sê Nicoleen.

“Vir my is dit asof vandag se kinders onder geweldige druk moet oorleef. Hulle moet skoolwerk bemeester, en aan allerhande buitemuurse aktiwiteite deelneem, met min tyd vir sosialiseer en afskakel.

“Dit is asof sommige van die kunswerke geweldige eensaamheid uitdruk.”

Kuns spreek kwessies wat pla, aan

In een van die skilderye het ‘n 12-jarige meisie ‘n papiermasker op die raam van die skildery geplak met woorde hoe sy soms voel, “I’m ok, I’m fine,” maar in die skildery self is die gesig van ‘n ongelukkige meisie sigbaar.

‘n Seun (14) teken hoe hy sy sorge van sy skouers afgooi as hy motorfiets ry. Nog ‘n meisie (13) verbeeld haar oorweldigende angs wanneer eksamentyd naderkom: “The Silent Scream of the Study Desk.” ‘n Seun (15) wat Graves se siekte, selektiewe mutisme en ADHD het, teken sy kleurryke binnewêreld en hoe niemand regtig weet wat daarin aangaan nie.

In nog ‘n houtskoolskets is ‘n gesiglose meisie (11 jaar) wat vooroor oor haar knieë buig, met hande met lang naels wat na haar gryp, met die titel: “In the Grips of Anxiety.”

Nog ‘n meisie (8) teken ‘n vasgevange marionet, “Puppet of Perfection.” ‘n Ander een (10) teken ‘n sonneblom oor haar gesig, die kyker sien nie die gesig agter die “vrolike” sonneblom nie.

‘n Seun (8) teken Justitia, godin van geregtigheid, maar in die agtergrond is woorde soos moord en verbode toegang sigbaar, hy beeld uit dat ons soms sukkel met negatiewe denke wat ons nie mag uitspreek nie.

Nicoleen sê kuns is nie net ‘n wyse om verborge talente te ontdek nie, maar ook ‘n manier om ondersoek in te stel na die binnewêreld, en op antwoorde af te kom oor kwessies wat pla.

Die kompetisie is ‘n platform wat bewusmaking vir geestesgesondheid skep.

You need to be Logged In to leave a comment.