Geen uitnodigingspan, wat klubspelers van ander Stellenbosse spanne verteenwoordig, kan nou die wedstrydverpligtinge van die Blakes-rugbyklub oorneem nie.

Dít is die antwoord van Denzil Titus, klubrugby-administrateur van die WP-rugbyunie, op ’n navraag van Eikestadnuus oor spanne wat vyf punte op ’n skinkbord kry omdat Blakes nie sy wedstrydverpligtinge nakom nie.

“Uitnodigingspanne word nie in ons klubstrukture toegelaat nie, maar Blakes se spelers kan by ander klubs in Stellenbosch aansluit as hulle vanjaar nog wil speel,” aldus Titus.

“Die afsnydatum vir rondbeweeg tussen klubs was Saterdag 16 Maart en Blakes se spelers het Saterdag 9 Maart laas gespeel. Registrasie van spelers by klubs eindig eers in Junie en WP het nie ’n probleem as hulle by ander klubs registreer nie.”

Sedert die liga Saterdag 13 April begin het, het Stellenbosch Coronations, Gordonsbaai Pioneers en Windmeul elk vyf punte ontvang sonder om ’n voet op die rugbyveld te sit. Blakes se volgende ligawedstryd is eers Saterdag 18 Mei teen Raithby Universals en hy het genoeg kans om sy huis in orde te kry.

Die tussentydse bestuur van Blakes het teen druktyd nog nie kommentaar gelewer oor wat hulle intussen gaan doen nie, maar volgens John Gordon, lid van dié bestuur, sal hulle ’n vergadering belê om die probleme te bespreek en ’n persverklaring uitreik.

Intussen is ander afrigters van klubs in Stellenbosch bekommerd oor die spelers wat vanjaar nie gaan rugby speel nie, maar Saterdae ledig rondsit en dit glo oor ego’s van bestuurslede wat nie die spelers se belange op die hart dra nie. Hulle wil egter nie betrokke raak by Blakes se sake nie en fokus net op hul eie klubs en spelers.

Blakes is een van die oudste klubs in Stellenbosch en het Proteaspelers soos John Noble en Charles Williams, asook WP-Gouebeker en WP-ligaspelers soos wyle George Noble, Andrew van Wyk, Aubrey en Christie Noble in die apartheidsjare opgelewer.

Intussen is dit nog ’n op-en-af-storie op die punteleer vir sommige van die ander Stellenbosse spanne in hul onderskeie ligas.

Van der Stel Evergreens (VDE) en Kylemore het die afgelope Saterdag (27 April) in Superliga B onderskeidelik met Strand met 38-16 en All Saints met 31-26 afgereken. Dis nou die derde keer dat Strand tweede in ’n kragmeting kom.

Die ander buurspan in Superliga B, Franschhoek, het met 39-32 teen UWK vasgeval.

Eerskomende Saterdag ontvang VDE besoek van Bellville, terwyl Franschhoek na Strand reis vir sy kragmeting. Kylemore is die gasheer vir UWK, wat net-net teen Franschhoek gewen het.

In Superliga C gee Pniël Villagers die pas aan nadat hy in sy derde wedstryd met 13-10 teen Blue Jets gewen het, terwyl Stellenbosch Coronations vir Whistling Wheels met 27-18 in sy Noordelike liga-kragmeting huis toe gestuur het. Excelsior en Gordonsbaai Pioneers het ook in die Noordelike liga gelykop met 7-7 gespeel en Raithby Universals het met 15-13 die knie teen Sir Lowrians gebuig.

Corries, Villagers en RU is eers Saterdag 11 Mei weer in aksie en het nou ’n ruskans om van beserings te herstel en aan nuwe wedstrydplanne te werk. Excelsior speel tuis teen Sir Lowrians.

You need to be Logged In to leave a comment.