Blakes het Saterdag teen Sir Lowrians in hul laaste kragmeting in die Promosieliga 27-23 gewen, maar dit was nie genoeg om vir die uitspeelwedstryd teen Masiphumelele te kwalifiseer nie.
Drie spanne het Saterdag sake uitgespook vir ’n plek om teen Masiphumelele op City Park uit te speel en Violets het ’n beter kans gestaan om weens die punteverskil te kwalifiseer.
Masiphumelele het reeds voor Saterdag danksy sy derde plek op die punteleer vir die uitspeelwedstryd gekwalifiseer, en moes net wag om te sien teen wie hy moet uitspeel om ook vir Superliga C volgende jaar te kwalifiseer. Hamediehs en Van der Stel-Evergreens het reeds gekwalifiseer omdat albei onderskeidelik eerste en tweede op die punteleer was.
Blakes was een tree beter as Van der Stel-Evergreens, wat nie die pyp teen Sir Lowrians kon rook nie. Met vier minute speeltyd oor en die telling op 42-31 in VDE se guns, het VDE sy voet van die pedaal gelig en toegelaat dat Sir Lowrians in daardie vier minute 12 punte – twee drieë en ’n doelskop – aanteken, wat Sir Lowrians om 43-42 laat wen het.
Blakes kon ook eers in die doodsnikke die knoop deurhak.
Hamediehs het Saterdag in Athlone korte mette gemaak met Noordelikes, wat met die houtlepel huis toe is, deur die besoekers 38-26 kaf te draf. Noordelikes sal in 2023 weer in die sones moet speel om vir die Promosieliga te kwalifiseer.
In Lansdowne was Violets te sterk vir Lagunya en het die kragmeting 36-28 gewen.
Masiphumelele het Atlantis op laasgenoemde se tuisveld 48-27 afgeransel, terwyl Van der Stel-Evergreens reeds sy verpligtinge afgehandel het en nie die afgelope naweek in aksie was nie.
Die formaat vanjaar in die Promosieliga was dat die twee spanne, wat in posisie een en twee eindig, outomaties vir Superliga C kwalifiseer, terwyl spanne in posisie drie en vier moet uitspeel om te bepaal wie die derde span is wat ook in Superliga C gaan speel.
Die laaste drie spanne in Superliga C skuif outomaties na of Noordelike, Suidelike of Stadsligas, en hulle is Elsiesrivier, Raithby-Universals en Strand United.
Uitslae van Saterdag 1 Oktober:
Violets 36 Lagunya 28
Masiphumelele 48 Atlantis 27
Hamediehs 38 Noordelikes 26
Blakes 27 Sir Lowrians 23. Van der Stel-Evergreens het ’n loslootjie gehad