Grant Kennedy van Blakes-rugbyklub probeer ’n deur ’n laagvat van ’n Excelsior-speler breek.Foto: Francois Lombard.


Blakes-rugbyklub het die afgelope Saterdag (18 Junie) sy buurman Excelsior-rugbyklub in ’n strawwe derby met 26-5 geklop.

Die wedstryd is voor ’n groot skare en in goeie gees gespeel. Blakes behou met hierdie oorwinning sy tweede plek op die Noordelike-liga se punteleer.

Blakes se eerste drie is deur Enslin Johannes gedruk en Athon Arnolds het verdoel. Sy tweede drie was ná goeie spel tussen die voor- en agterspelers, maar is ongelukkig nie verdoel nie (telling 12-0 in Blakes se guns en ook die halftyd-telling).

Grant Kennedy was goud werd in die lynstane en het verseker dat Blakes ook in die skrums oorheers. Excelsior het verwoed aangeval, maar kon nie deur die Blakes-verdediging breek nie.

Kort ná rustyd het Ronaldo Dampies Excelsior se eerste en enigste punte aangeteken toe hy Blakes se doellyn oorgesteek het. Blakes het egter ná ’n string Excelsior-oortredings ’n strafdrie onder die pale gekry.

Chaldwin Ortell van Blakes het ná ’n mooi agterlynbeweging agter die doellyn gaan kuier en só die wedstryd beklink met die telling 26-5. Chestwen Hosten, Grant Kennedy en Jason le Roux het goeie rugby gespeel. Hosten is as die speler van die wedstryd aangewys.. Hierdie naweek kom Blakes in Cloetesville teen Whistling Wheels van Eersterivier te staan. Die klubbestuur vra ondersteuners om in groot getalle op te ruk.

You need to be Logged In to leave a comment.