Die eerste span van Blakes-rugbyklub het Saterdag (7 Mei) in die WP Noordelike-liga-klubrugbyderby met 9-12 koning gekraai oor sy buurklub Stellenbosch-Coronations op die Idasvallei-sportterrein.
Soos die eindtelling aandui, was die stryd ’n taai, klipharde kragmeting wat vir groot opwinding onder die twee klubs se ondersteuners gesorg het. Dit was veral die verdediging van albei spanne wat uitgestaan het, met nie een van die twee wat in die wedstryd agter die kalklyn gekuier het nie. Tog het goeie sportmangees en rugby op die ou einde geseëvier.
Coronations het van die begin van die wedstryd na die meer begeesterde span gelyk, maar hy kon nie deur die sterk Blakes-verdediging breek nie. Laasgenoemde se swak afronding in die eerste helfte het verhoed dat hy onder sy teenstanders se pale kon kuier.
Swak dissipline het wel gelei tot punte op die telbord vir albei spanne in die eerste helfte, met Athon Arnolds wat met twee strafdoele vir die besoekers geslaag het, en Riyaad Adonis wat suksesvol was met een strafskop vir Corries. Die rustydtelling was 6-3 in die guns van Blakes.
Met die omdraaislag het Coronations verwoed aangeval, maar die Blakes-verdediging het sy staal gewys en sterk gestaan.
Weer eens was die stelskoppers van albei spanne die enigste puntemakers, met Arnolds wat vir sy span nog twee doelskoppe tot die telling bygevoeg het, en Adonis wat met ’n pragtige skepskop geslaag het.
Die Blakes-spelers, wat agterlangs die oog met goeie spel gevang het, is die haker, Jason le Roux en die losskakel, Aldrin Greef. In die pak het die agtsteman, Grant Kennedy, die tuisspan by die lynstane veral gekwel, terwyl die flank Lambert Louw op verdediging goud werd was.
In die tweedespanwedstryd het die Corries-span 13-7 teen sy Blakes-eweknie geseëvier.
Hierdie naweek speel Blakes gasheer vir die manne van die Sir Lowrians-rugbyklub op die Cloetes-ville-sport-terrein. Die wedstryde begin om 14:30.