Hoër Meisieskool Bloemhof se atlete het in vanjaar se 4M, die groot atletiekbyeenkoms tussen die vier meisieskole van die omgewing, die knie voor La Rochelle (470 punte) en Hoër Meisieskool Paarl (403 punte) gebuig.
Desondanks het die Bloemhoffers puik presteer en daarin geslaag om 375 punte aan te teken.
Bloemhof-atletiek beleef wel ’n bloeitydperk, meen Julie Longden, sportbestuurder van atletiek.
“Die verbeterde afronding van ons atlete beweeg gewis in die regte rigting,” sê sy.
Nie minder nie as 39 van Bloemhof se 82 4M-atlete het die afgelope naweek deurgedring om aan die Sentraal-Boland-kampioenskap deel te neem. Atlete wat daar presteer, word in die Boland-span opgeneem.
Georgia Channon (diskus vir meisies o.17) en Mieke Basson (verspring vir meisies o.17) se prestasies die naweek was egter goed genoeg om reeds vir die ASA-junior kampioenskap te kwalifiseer.
Hoewel die meeste 4M-trofees vanjaar aan die Paarlse skole gaan, het Georgia en haar spanmaat, Jana Liebenberg, die trofee vir die beste o.17-atleet gewen.
Hulle is as die atlete met die beste prestasie vir die dag aangewys vir hul deelname aan die gewigstoot vir meisies o.17 waar Jana met 12,99 m goud en Georgia met 12,98 m silwer ontvang het.