Die 24ste Interskole tussen die HMS Bloemhof en C & N Meisieskool Oranje kon ná drie jaar uiteindelik weer plaasvind.
Die lang rusperiode as gevolg van die Covid-19 pandemie het verseker dat die leerders en personeel ekstra geesdriftig was.
Sedert 1996 word hierdie geleentheid gelyktydig met die Paul Roos Gimnasium- en Grey Kollege-interskole gehou en die Stellenbossers het vanjaar gasheer gespeel.
Die program het Donderdag 18 Augustus afgeskop met die kore van albei skole wat by LS Gene Louw in Durbanville gesing het. Hierdie geleentheid is baie waardevol aangesien dit ’n gulde geleentheid is om die skool aan voornemende Bloemhoffers voor te stel.
Vrydagoggend het die leerders oudergewoonte in uitstapdrag by die Markötter-sportkompleks aangetree om die dag met landloop af te skop. Daar was egter geen duidelike wenner hier nie, want dit het met ’n gelykop-uitslag van 105 punte per span geëindig.
Terselfdertyd is die tenniswedstryde by die Woodmill-sentrum se binnenshuise bane gespeel waar Oranje se spelers die botoon gevoer het.
Ná die landloop, het leerders na die Bloemhof-sentrum beweeg vir skriflesing en gebed, gevolg deur die debatspanne wat mekaar die stryd aangesê het. Bloemhof het hul standpunt die beste gestel en verdedig en die beoordelaars het die junior sowel as die senior spanne as wenners gekroon.
Die res van die dag is met ’n kultuurprogram waarin talente met mekaar gedeel is, skaak, vlugbal-, tafeltennis- en hokkiewedstryde gevul.
Die eerste hokkiespanne se wedstryd is ’n hele paar keer deur kragonderbrekings gestop wat die spanning hoog laat loop het.
Uiteindelik moes Bloemhof se eerstes die spit teen Oranje afbyt met ’n uitslag van 0-5.
Saterdag is nog hokkie- en netbalwedstryde gespeel met Oranje wat ook koning(in) gekraai het in die naelbyt-eindwedstryd tussen die skole se twee eerste netbalspanne. Oranje moes bloed sweet om 24-21 te wen.
Bloemhof sien verseker daarna uit om Oranje volgende jaar in Bloemfontein te pak en hierdie jare lange tradisie voort te sit.
Die organiseerders bedank Fairtree wat heelwat van albei skole se spanne borg en hierdie geleenthede moontlik maak.