Twee spanne van Stellenbosch het ál hul teenstanders se argumente in vanjaar se nasionale Dink-of-sink-debatkompetisie in die bek geruk en met die louere weggestap.
Drie junior leerders van die Hoër Meisieskool Bloemhof en drie seniors van Paul Roos Gimnasium is die afgelope naweek (20 Oktober 2018) as die nasionale wenners van dié debatkompetisie gekroon.
Bloemhof is as die wenners van die junior afdeling aangewys en Paul Roos die wenners van die senior afdeling nadat hulle spanne van Oranje Meisieskool, die Hoërskool Nelspruit, Hoërskool Noord-Kaap en Helpmekaar-kollege uitgestof het.
Die ses skole het elk hul streekkompetisie in Mei vanjaar gewen en mekaar Saterdag die stryd in twee uitdunne aangesê voordat ’n finale debat gevoer is.
Arlene Janse van Rensburg, Tia Bruwer en Angela Schindehütte, almal in graad 9, moes in die eindronde die span van Oranje Meisieskool pak in ’n debat waarin die onderwerp die privatisering van die SAUK was.
“Die eindronde se onderwerp was besonder moeilik vir ’n junior afdeling, maar die leerders het hulle goed van hul taak gekwyt en goeie debatsvaardighede aan die dag gelê,” het René Badenhorst, ’n Afrikaans-opvoeder by Bloemhof wat die span na Pretoria vergesel het, gesê.
Die Paul Roos-span, wat uit Alex Aldrich (graad 12), Jacques Botma en Mihan van Zyl (albei graad 11) bestaan het, het in die eindronde teen die Hoërskool Noord-Kaap meegeding. Hul onderwerp was “Stygende oliepryse sal tot beter ekologiese volhoubaarheid lei”. Die debatte sal in 2019 in Ontbytsake op kykNET uitgesaai word.