Die Accelerando-koor in aksie saam met die skoolkoor van Maritzburg College for Boys. Foto: Leon Piron


Die Hoër Meisieskool Bloemhof se Accelerando-koor het die skoolvakansie aan die Wêreld-koorspele, die sogenaamde “Olimpiese Spele vir kore”, in Pretoria deelgeneem en met ’n goue medalje teruggekeer.

Accelerando het vier gewyde werke in die kompeterende afdeling in die kategorie Musica Sacra uitgevoer. Sewe internasionale beoordelaars het hulle ’n gemiddelde 82,25% – en daarmee saam ’n goue medalje – toegeken.

“Die algehele ervaring was wonderlik vir die koor en ek was veral beïndruk met die wyse waarop die leerders met ander groepe kontak gemaak het,” sê Marijke de Villiers-Roos, die koor se dirigent.

“Ons was baie opgewonde toe ons hoor dat ons meer as 80% toegeken is. Om so goed in die kampioenskaps­afdeling te vaar, waar ons teen volwasse en universiteitskore meegeding het, was ’n groot oomblik.”

Die koorspele het egter nie net mededinging behels nie. Een van die hoogtepunte, meen Kaelin Louw (graad 12) was ’n vriendskapskonsert in die Menlyn-winkelsentrum waar die Bloemhoffers saam met ’n Oostenrykse koor vir volwassenes, die seunskoor van Maritzburg College en Laerskool Lynnwood se skoolkoor opgetree het.

“Ek het nog nooit so na aan ’n groep gevoel soos met hierdie koor nie,” sê Kaelin, wat in 2017 die koorvoorsitter was. “Die spele se leuse was “various voices, one harmany” en ’n mens kon regtig sien hoe dit uitgeleef word. Die kontak met ander kore was min, maar baie, baie spesiaal.”

Accelerando is volgende week die gasvrou vir die Kokopelli-koor van Edmonton in Kanada.

Die twee kore sal Donderdag 26 Julie 19:00 ’n uitvoering in die Bloemhof-sentrum lewer.

Toegang is gratis.

You need to be Logged In to leave a comment.