Die tuba is dalk die grootste instrument in die koperblaas-familie en die een met die laagste toonhoogte, maar dit het Tamika Viljoen nie afgeskrik om dié instrument op te neem nie.
“Ek is ’n tweede alt in die koor, wat beteken dat ek baie laag kan sing,” verduidelik Tamika, ’n graad 8-leerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof. “Die diep klank van die tuba was dus iets waarmee ek my kon vereenselwig.”
Tamika is die eerste Bloemhoffer in die skool se geskiedenis wat as musiekleerder by die skool lesse in dié instrument kry. “Dis nie so moeilik om te leer speel nie, maar ek dink dit intimideer mense omdat dit so groot is,” lag sy.
Dalene Bosman, hoof van musiek by Bloemhof, is baie opgewonde oor Tamika se besluit.
“Bloemhof se koperblaasafdeling het die afgelope vyf jaar geweldig gegroei en die toevoeging van die tuba beteken dat alle koperblaasinstrumente nou deur die musiekdepartement gedek word. Verskeie musiekonderwysers – almal spesialiste in hul instrument – deel ons entoesiasme om die koperblaasafdeling uit te brei,” sê Bosman. “Ons is veral opgewonde oor die feit dat daar nou vir die eerste keer by Bloemhof tuba aangebied en gespeel word.”


