Maryna de Waal, skakelpersoon vir die Bloemhofbond, met die Bloemhof-kunsboek.Foto: Stephan Meyer


Iets wat besoekers aan die Hoër Meisieskool Bloemhof dadelik opval, is dat die ingangsportaal nie die tipiese “skoolkantoor” is nie, maar veel eerder ’n kunsgalery voorstel.

Dié skool pronk met 58 werke wat die afgelope agt dekades deel van die Bloemhof-versameling geword het, en nou kan kunsliefhebbers, danksy die publikasie van Kuns: Die Bloemhofversameling, ’n blik op hierdie geskiedkundige skat van die skool kry.

“Hierdie boek het homself oor 81 jaar geskryf,” sê Wilna van Heerden (skoolhoof) in die voorwoord en verduidelik die eerste skilderye is tydens die hoofskap van mej. C.C.G. van der Walt (skoolhoof van 1935-1954) gekoop.

“Dit was die ontstaan van die kunsgalery by Bloemhof.”

Nadat die versameling, wat onder meer werke van Pierneef, Tretchikoff en die oudleerder Maggie Laubser insluit, in Reyneveldstraat se Bloemhofskoolgebou (vandag die Sasol-kunsmuseum) gehuisves is, kon dit in 2013 “huis toe kom” toe die skool se ingangsportaal opgegradeer is. Vandag groei die versameling steeds, want sedert 2011 het dit vir die matriekklas tradisie geword om geld in te samel en ’n kunswerk vir die skool as geskenk te gee.

Kuns: Die Bloemhofversameling is deur Suzette van Schalkwyk saamgestel met Francé Beyers, Margaret de Villiers, Elize Laubscher en Maggie Mouton as medewerkers.

Hoewel die amptelike bekendstelling van die Bloemhof-kunsboek – soos dit in die skoolgange genoem word – weens die grendeltyd uitgestel moes word, is die boek nou by die skool beskikbaar. VDie boek kan by Maryna de Waal, Bloemhofbond-skakelpersoon, bestel word: maryna@bloemhofschool.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.