Die Hoër Meisieskool Bloemhof se senior toneelgeselskap sal vanjaar weer aan die nasionale eindronde van die ATKV se jaarlikse Tienertoneelfees deelneem nadat hulle Saterdag 1 September as die wenners van die ATKV se streekfees gekroon is.

Vanjaar se stuk is getiteld tot stof | tot stilte met die regie deur dr. André Gerber en Anél Joubert, ’n dosent aan die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement. Die musiek is deur David Wolfswinkel, ’n oud-Paul Rooser en derdejaarmusiekstudent, gekomponeer.

Dit is dieselfde kreatiewe span wat in 2017 vir Wag, ek kry gou my foon [en soos sulke goed], wat ’n tweede plek in Suid-Afrika verower het, verantwoordelik was.

Die geselskap bestaan uit 16 Bloemhoffers uit graad 9 tot 12, terwyl Stehan Odendaal, ’n graad 11-leerder aan Paul Roos Gimnasium, ook betrokke is. Marisca Engelbrecht en Ané Conradie, albei in graad 10, is die produksie se tegnici.

Vanjaar se toneelstuk volg in die voetspore van vorige Bloemhof-produksies in die sin dat dit ook verbatim-teater met ensemble-spel is. Soortgelyk aan Vyf (2015) en Wag, ek kry gou my foon [en soos sulke goed] (2017) bestaan tot stof | tot stilte se teks uit opnames van gewone leerders – hoofsaaklik Bloemhoffers – wat oor gewone dinge wonder.

Die toneelstuk handel “oor dié dinge waarmee Bloemhoffers behep is – dinge wat die meeste van ons tyd in beslag neem”, sê Gerber, wat saam met die geselskap werk om die gefragmenteerde tekste tot bruikbare eenheid te verwerk.

“Ons ondersoek onderwerpe en temas soos tegnologie, die internet, sosiale media, qoohme*, selfbeheptheid en die algehele paniek wat spruit uit daai oorweldigende gevoel van ‘Daar’s net te véél!’, die geraas van ons tyd,” meen Gerber.

Skole van reg oor Suid-Afrika en Namibië skryf jaarliks vir die ATKV se Tienertoneelkompetisie in, maar uiteindelik dring slegs die 15 beste stukke na die nasionale eindronde deur.

Bloemhof se produksie is vanjaar weer een van hierdie topproduksies en een van slegs drie Wes-Kaapse produksies wat in die Oktobervakansie in Roodepoort, Johannesburg, op die planke sal wees.
* qoohme is ’n sosiale webwerf waar mense vrae of opmerkings met iemand kan deel sonder dat hul eie identiteit aan die persoon bekend is. Dit is, nodeloos om te sê, ook bekend vir aanlyn-boeliegedrag – iets wat ook in die stuk bespreek word.

You need to be Logged In to leave a comment.