Ten spyte van die onsekerheid of skole op 1 Junie wel sou open, was 117 van die HMS Bloemhof se 131 matrieks op die eerste dag ná die inperking in die klas.
“Ons leerders is regtig positief om terug te wees,” sê Louise Joubert, die graad 12-graadhoof. “Vir hulle was die kontak met hul maats en onderwysers die ding waarna hulle die meeste verlang het.”
Carmen Jansen van Vuuren beaam dit. “Dit was eintlik glad nie so scary soos wat ek gedink het dit gaan wees nie,” sê sy. “Die onderwysers is baie ondersteunend.”
’n Streng protokol word soggens gevolg waar die leerders se temperatuur gemeet word voordat hulle na hul klasse kan gaan. “Geen van die leerders het vanoggend enige simptome getoon nie gevolglik is niemand afgesonder nie,” sê Leon Piron, wat lid van die skool se veiligheidspan is. Leerders en ouers het verlede week ’n deeglike inligtingsdokument ontvang waarin die protokol breedvoerig verduidelik word.
Elke leerder het in die eerste pouse ’n roos ontvang terwyl hulle deur die onderwysers toegejuig is. Dit het klaarblyklik baie vir die leerders beteken.
“Ons was baie gespanne toe ons vanoggend hier aangekom het,” sê Carmen, “maar die graad se gemoed was fantasties toe ons ná die laaste periode uitstap.”
Werk word steeds vir die graad 12-leerders, net soos vir al die ander grade, aanlyn beskikbaar gestel, maar dit is vir Bloemhof belangrik dat die matrieks skool toe kom.
“Ek het net vandag weer besef dit is vir die leerders belangrik om aan gesprekke in die klas deel te neem,” meen Joubert.
“Om goed in die klasse te bespreek, help die leerders om krities oor die vakinhoud te dink, en dit is iets wat baie moeiliker gebeur as jy op jou eie werk.”
Volgens die departement van basiese onderwys keer die graad 10- en 11-leerders op 6 Julie terug skool toe, terwyl die graad 8’s en 9’s op 3 Augustus inval. Dié datums is egter nog nie amptelik deur die skool aan die leerders oorgedra nie en e-leer gaan intussen voort.